Twee belowende nuwe spelers vir die Griekwas

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die Tafel Lager Griekwaland-Wes-rugbyspan het twee belowende voormalige Varsity Cup-spelers in hul midde vir die komende seisoen.

Daniel ‘Fijian’ Kasende (Wits) en Raegen Orange (Tuks) is onder Griekwas se nuwelinge vir die seisoen wat die komende naweek afskop.

Albei is opgewonde oor die geleentheid wat die Poubloues hulle bied om die belangrike stap te neem om hulle op provinsiale vlak te vestig.

Beide glo daar is enorme kanse by Griekwas beskikbaar en wil dit graag benut om hulself op hoër vlak te bewys.

Kasende is ‘n boorling van die DRC (Demokratiese Republiek van Kongo) en was die afgelope drie jaar een van Wits se groot uitblinkers. Hy het reeds in Kimberley aangekom en sy buiging in die afgelope twee oefenwedstryde teen Vrystaat gemaak.

In Wits se sportblad het hul rugbyafrigter, Hugo van As, gesê met sy koms by die universiteit in 2015 het hierdie uithalerheelagter oorgenoeg talent getoon en sy grootste aanwins is sy spoed en blitsige versnelling.

Hy het Kasende sterkte toegewens met sy eerste senior kontrak en aangemoedig om met sy voete plat op die aarde te bly en die nederige persoon te bly wat hy is.

Orange, ‘n Oos-Kapenaar wat hom in Pretoria gevestig het en skrumskakel vir Tuks gespeel het, was sedert 2018 in die Blou Bulle se Curriebeker-groep.

Hy sal volgende maand by Griekwas aansluit in die plek van Creswill September wat aan die einde van die maand na die Pumas op pad is.