Dawie Griesel van Kimberley Snake Rescue het gister ’n 1,42m Kaapse kobra uit ’n gat in die grond naby Cassandra verwyder. Die slang is 15 km buite Kimberley vrygelaat.
Die slang is al vir drie dae naby die gat gewaar, maar gelukkig kon Griesel hom veilig verwyder. Die kobra was glo agter die hase in die gat in die grond aan. Dis nie die eerste keer dat ’n Kaapse kobra in Kimberley verwyder is nie.
“Omdat die stad uitbrei en mense nou bou waar die slange se habitat is, is dit algemeen vir die slange om in die dorp voor te kom,” sê Griesel.
Die beste manier om te verhoed dat slange in jou erf rondseil, is om van enige moontlike wegkruipplek ontslae te raak. Omdat slange wegkruipplek soek, is gate en bourommel die ideale plek vir hulle.
Van die giftige slange wat in Kimberley voorkom, is Kaapse kobras, pofadders en boomslange. Van die minder gevaarlike slange wat in dié dorp voorkom, is die huisslang en die molslang.
As jy in enige stadium ’n onwelkome gas soos dié naby jou huis gewaar, skakel vir Dawie Griesel by 084 240 6353.



