’n Man is vandag na bewering in die vroegoggendure in die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (Kimberley-hospitaal) geskiet.
Volgens ’n bron is die pasiënt glo op 28 Augustus 2020 in die hospitaal opgeneem nadat hy op straat geskiet was. Die pasiënt was eers in die intensiewe eenheid, waarna hy volgens die bron gister vanaf A4 na A2 verskuif is.
Die verdagte(s) het glo persoonlike beskermstoerusting aangehad en het reguit na die pasiënt se saal geloop, “asof hulle presies geweet het waar hy lê”. Die verdagtes het na bewering met niemand gepraat nie, maar die verpleegsters is glo van hulle selfone beroof.
Volgens die bron weet niemand presies wat gebeur het nie. Daar is ook geen inligting oor hoe die verdagte(s) die hospitaal binnegekom het nie of van watter hek die verdagte(s) gebruik gemaak het nie.
Die bron sê die slagoffer se broer het ook uitgereik na die hospitaal oor hoekom die voorval plaasgevind het, want geen besoekers word op die oomblik toegelaat nie.
Die polisie saam met die K9-eenheid is na die voorval ontbied.
FiND iT wag op terugvoer vanaf die departement van gesondheid en die polisie.
Volg Find-it hier.



