Nog ‘n borg onttrek

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Krieket Suid-Afrika (KSA) is verder in ’n krisis gedompel deur die tweede onttrekking van ‘n groot borg dié week.

Momentum, wat sedert 2012 deel van krieket is, het aangekondig hulle gaan nie hul borgskap, wat einde April eindig, hernu nie.

Carel Bosman, hoof van die borgskap by Momentum, het in ‘n verklaring gesê hulle is trots op die ag jaar vennootskap met Krieket Suid-Afrika, maar is ongelukkig oor die huidige stand van sake by KSA.

“Ons sal die volgende maande tot die borgskap eindig in gesprek bly met KSA om te verseker dat die liggaam eties en professioneel bestuur word en dat alle rolspelers se belange in ag geneem sal word.”

Sedert 2012 het Momentum die Proteas se eendag internasionale, plaaslike en provinsiale kompetisies, asook die o/13, o/15 en o/17’s se eendag kompetisies geborg.

Momentum sal egter steeds as die vroulike Proteas se hoofborg aanbly tot die kontrak in 2023 eindig.

Verlede jaar reeds het Standard Bank aangedui hy gaan sy bande met die nasionale sportliggaam verbreek. Voormalige krieketspelers en administrateurs voorspel hierdie kan waarskynlik die doodslag vir die spel wees.

Die Suid Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het aangedui hulle gaan by KSA ingryp.