Warrenton: twee weke sonder water

Deel hierdie storie / Share this story

WARRENTON – Inwoners hier gaan al vir meer as twee weke gebuk onder ’n gebrek aan water. Mammas kan nie meer hul babas se klere was nie en bejaardes kan nie self water aandra nie. Die krane is droog en daar kom nie eers ’n druppel uit nie.

Dikwels droogte

Die krane in Warrenvale en die stasie, wat water direk uit die Vaalharts-kanaal kry, het al dikwels droog geraak. Dit word gewoonlik aan onderhoudswerk aan die kanaal toegeskryf.

Gemeenskapsgroepe op sosiale media plaas talle boodskappe waarin inwoners op die ontbinding van die munisipaliteit aandring.

Raadslede praat uit

Pottie Potgieter, DA-raadslid op Warrenton, sê hy is bewus daarvan dat sekere dele steeds sonder water is. “Ek weet die groot probleem lê steeds by die stasie. Daar het ’n paar pype gebars wat tans besig is om herstel te word. Ek kan ongelukkig nie sê hoe lank dit nog gaan neem nie.”

Raymond Porter, ondervoorsitter van die VF+ op Warrenton, sê die munisipaliteit het in hierdie stadium geen bestuurstruktuur nie. “My voorstel aan die gemeenskap is om ’n taakspan saam te stel, uit te gaan en die probleem te identifiseer. Daarna sal kwotasies gekry moet word om die probleem te herstel en dit moet van die munisipaliteit geëis word.”

Inwoners ontsteld

Ria van der Westhuizen, ’n Inwoner van die gebied wat ook al twee weke sonder water is, sê sy kan nie eers meer haar klein kindertjies se klere was nie.

Rentia van Rensburg, wie se bejaarde ma ook in die gebied bly, sê haar ma is al 80 jaar oud en kan nie meer self water van die Jojo-tenks af aandra nie.

Daar word weekliks Jojo-tenks volgemaak vir inwoners om te gebruik, maar in ’n stadium was inwoners vir ’n week sonder water toe die tenks nie volgemaak is nie.

“Die groot probleem is inwoners se toilette. Die water is ook nie veilig vir menslike gebruik nie,” het Raymond Porter voortgegaan.