“Vra dat die Here my kom haal. Ek is so moeg. Lief julle altyd”

Deel hierdie storie / Share this story

Dit is Carma Shaw (59), die bekende digter, se laaste inskrywing op Facebook voordat sy aan kanker oorlede is.

Neuroëndokrien kanker

Kevin Shaw, haar man, sê sy het die inskrywing geskryf nadat sy chemoterapie en ’n groot operasie ondergaan het. Carma is vroeg in 2019 met neuroëndokrien kanker gediagnoseer. Sy het volkome herstel totdat dit in Maart weer opgevlam het.

Carma het drie digbundels in die afgelope 10 jaar uitgereik. In 2016 was sy ook die wenner van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans sê 11de digkompetisie. Vanjaar het sy die derde plek in die Ingrid Jonker: L’Art Poétique-digkompetisie behaal.

Hier volg haar laaste gedig wat sy op Facebook gedeel het:
AREND

’n arend bly ’n arend
al het sy weggevlieg
want een met sulke vlerke
(en wat kaalpoot aan die bloutes klou)
een wat só kan swaai en wieg
sou nooit ooit oor haar arendwees
’n menskind wou bedrieg

’n oog wat so na die vertes wyk
maar wat ook vas en stip kan staar
so ’n oog is ’n arendsoog –
dit kyk diep en dit kyk waar

en om ’n dassie of ’n vis te vang
daarvoor is sy nie bang nie
ook nie om haar prys
teen die transe van haar hemel
aan haar kloue op te hang nie

’n arend bly ’n arend
al het sy weggevlieg

Volg Find-it hier.