Jou kind sien per ongeluk ’n selfdood, hoe nou?

Deel hierdie storie / Share this story

Jy het teen die tyd al gehoor van die man, Ronnie McNutt, wat homself in ’n regstreekse video op Facebook doodgeskiet het. Lees die berig hier.

Hoe hanteer jy dit as jou kind of iemand vir wie jy omgee op so iets afkom? Verstaan jy die impak wat so iets op jou kind se lewe kan hê?

FiND iT gesels met Estie Botha, ’n maatskaplike werker en spelterapeut by Caritas in Kimberley.

Daar is drie fases waardeur elke kind, selfs grootmense, gaan wanneer hulle ’n traumatiese video gesien het of ervaring moes beleef. Alhoewel elke persoon uniek is en anders op verskillende gebeurtenisse reageer, bly die drie fases iets waardeur almal gaan.

“En dis doodnormaal vir enige persoon om deur hierdie fases te gaan ná so iets. Jy hoef eers bekommerd te raak wanneer jou kind nié na ‘n vasgestelde tydperk deur al drie fases beweeg het nie,” sê Botha.

Fase een

Gedurende hierdie fase is jou kind nog in skok oor wat hy of sy moes sien. Dis in hierdie stadium waar die kind sukkel om mooi te verstaan wat gebeur het. Hierdie fase duur gewoonlik vir 24 tot 48 uur na die gebeurtenis.

Fase twee

Hierdie fase word die herlewingsfase genoem. In hierdie fase is kinders geneig om terugflitse van wat hulle gesien het, te ervaar. Hulle kan sukkel met nagmerries of hoofpyne, irritasie, woede of eetpatrone.

Fase drie

Hierdie fase word die herstelfase genoem. Die streshormone wat gedurende die traumatiese gebeurtenis afgeskei is, verminder aansienlik in dié fase. Die emosies plat af en alles in jou kind se liggaam keer terug na normaal.

Botha sê dat wanneer jou kind te lank (meer as 48 uur tot vier weke) na die gebeurtenis steeds in fase twee is, behoort jy te dink daaraan om hulp te kry.

“Jy sal sien wanneer jou kind regtig nie meer hom- of haarself is nie. Hy of sy sal regtig sukkel om te slaap, ’n slegte eetpatroon volg en negatief wees,” sê sy.

Wat die belangrikste is om te onthou, is dat dit ’n normale proses is waardeur jou kind gaan. As jy graag wil help, kan jy met jou kind probeer gesels oor wat gebeur het. Wees geduldig en skep vir jou kind ’n veilige en beskermende omgewing. Probeer verstaan waardeur jou kind gaan en wees daar om te help.

“Kinders kry hoeka nou swaar weens die Covid-19-regulasies wat hulle vir so lank weg van hulle vriende gehou het. Kinders is sosial wesens en kan nou nie eers vir hulle vriende drukkies gee nie,” verduidelik Botha. “Om wanneer jy vir ’n bietjie onvlugting in hierdie onseker tyd na sosiale media gaan en dan kom jy op só iets af? Dis te verstane dat dit jou kind se roetine en gedagtegang ’n bietjie gaan omvergooi.”

In hierdie spesifieke situasie is dit die perfekte tyd om met jou kind te gesels oor selfdood. Selfdood is ’n groot probleem in vandag se lewe. Stel jou kind bekend aan die verskillende risikofaktore wat aan selfdood gekoppel is en gesels oor dinge soos trauma.

Botha sê verder kan jy hierdie geleentheid gebruik om bietjie te kyk na wat jou kind op sosiale media te siene kry. Ouers besef nie altyd tot wat alles die internet ons kinders toegang gee nie. Verbreed ‘n bietjie jou kennis oor sosiale media.

Onthou net, om ’n liefdevolle en beskermende omgewing vir jou kind te skep, bly baie belangrik.

Indien jy of enigeen wat jy ken hulp nodig het, skakel die Suicide Crisis Helpline by 0800 12 13 14.