Iemand in jou gesin toets positief, hoe nou gemaak?

Deel hierdie storie / Share this story

Jy weet miskien hoe om te probeer voorkom dat jy of jou gesinslede die Covid-19-virus iewers opdoen. Weet jy wat om te doen as iemand in jou gesin die virus kry en hulle in jou huis moet isoleer?

FiND iT gesels met Hendrik Coetzee* wat onlangs sy vrou in hulle huis moes versorg toe sy moes isoleer na sy positief vir Covid-19 getoets het.

“Ek kon vanselfsprekend nie vir agt dae op ‘n ander plek gaan bly nie. Dis tog my huis ook, so ons moes dinge só aanpas dat ek of my kinders nie ook siek word nie.”

Coetzee sê die belangrikste ding was vir sy vrou om in haar kamer te bly. Sy moes vir die vasgestelde tydperk in haar kamer bly. Coetzee, wat self maar in die gastekamer geslaap het, sê: “Ja, dis nou nie ‘n lekker ding nie, maar dis iets wat mens maar moet doen.”

“Wanneer sy bietjie buite in die son wou gaan sit, het ons klaar die deure oopgesluit. So kon ons verhoed dat sy aan die sleutels of die deurhandvatsels raak.”

Coetzee, wat toe self ook moes isoleer, het voor hulle sy vrou se uitslae gekry het, klaar gaan inkopies doen.

Coetzee vertel hoe hy kos gemaak het en dit dan net voor sy vrou se bed neergesit het. “Dis iets om aan gewoond te raak, maar ek het elke keer ‘n masker aangehad, selfs wanneer ek net in die kamer se deur gestaan het. En ek het elke keer, voor en na ek aan haar bord gevat het, my hande ontsmet.”

“Wat die badkamer aanbetref, het ons ook maar ontsmettingsmiddel en handreiniger oral gebruik. Ons het elke keer voor en ná ons die badkamer gebruik het, oral waar ons gevat het, ontsmet.”

Klik hier vir meer inligting oor behandeling as jy met Covid-19 gediagnoseer word.