Met toenemende berigte van handelaars en diensverskaffers aan wie Noord-Kaapse regeringsdepartemente nog betaling skuld, het die Demokratiese Alliansie (DA) ‘n provinsiale veldtog geloods om onbetaalde ondernemings te ondersteun in die stryd om hul geld te ontvang.
Hierdie is volgens Andrew Louw, MPL – DA Noord-Kaapse provinsiale leier.
Volgens Louw kom dit te midde van ‘n toename in klagtes wat deur die DA ontvang is van maatskappye wat sake met die regering gedoen het en wat nie betaling daarvoor ontvang het nie. “Sommige wag al vyf maande. Dit is heeltemal onaanvaarbaar.”
“Staatsdepartemente is verplig om besighede binne 30 dae te betaal. Deur te versuim om hierdie betalingstydraamwerk na te kom, dra die regering direk by tot die verdere agteruitgang van die provinsiale ekonomie deurdat hulle opsetlik sakeondernemings laat bankrot speel.”
“Net soos die regering, benodig ondernemings ook gesonde kontantvloei om kop bo water te hou. Dit is dus uiters arrogant en koudhartig van die regering om betaling te vertraag aan diegene met wie hulle besigheidsooreenkomste aangegaan het.”
“Die regering kan nie die verskoning gebruik dat hul begrotings afgesny is weens die herprioritisering van die koronavirus-pandemie nie. As hulle nie die nodige fondse gehad het om dienste of goedere te kan bekostig nie, moes hul in die eerste plek nie die aankope gedoen het nie.”
“Tweedens is dit verbasend hoe vinnig departemente miljoene rande op skoonmaakkontrakte en bedenklike transaksies vir persoonlike beskermende toerusting kan uitdeel sonder om gastehuise, spyseniers, en ander diensverskaffers te vergoed vir dienste wat reeds gelewer is.”
“Dit is hoog tyd dat die saak van staatskuld hanteer word. Ons weet dat regeringsdepartemente in die Noord-Kaap meer as R1,2 miljard aan munisipaliteite skuld. Tog word daar min gesê oor hoeveel staatsdepartemente vir private ondernemings skuld.”
“Die DA het dus ‘n veldtog begin om hierdie kwessie in die kollig te plaas. Ons nooi alle besighede in die Noord-Kaap, wat wag op uitstaande betalings van staatsinstellings, om die besonderhede aan ons te rapporteer. Ons bou ‘n vaste saak teen die provinsiale regering en sal saam met die sakeondernemings staan om te eis dat uitstaande rekeninge vereffen word.”
“Dit word al hoe belangriker dat ons dit wat van die provinsiale ekonomie oorbly, moet beskerm om ‘n volhoubare heropbou van die gebroke ekonomie te verseker.”
Noord-Kaapse maatskappye word uitgenooi om alle gevalle van
wanbetaling by die DA aan te meld by: [email protected].
Help ons om u te help om u fooie te ontvang.
* Persverklaring



