Polisie op soek na derde verdagte in plaasaanval

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie in Mpumalanga is op soek na ’n verdagte wat gedurende ’n plaasaanval op 2 September weggehardloop het. Die insident het by Sundra naby Delmas plaasgevind en een verdagte is doodgeskiet.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, sê drie gewapende verdagtes het die plaashuis genader. Die inwoners en die verdagtes het op mekaar begin skiet toe die inwoners ’n geraas gehoor het.

’n Polisie-offisier wat na aan die plaas woon, het die skote gehoor en gaan ondersoek instel. Die omgewing se buurtwag het ook betrokke geraak.

Een verdagte is doodgeskiet en ’n ander net raakgeskiet. Twee vuurwapens, met afgeskuurde reeksnommers, is gekonfiskeer. Die derde verdagte het weggehardloop.

Die verdagte wat raakgeskiet is, is na die hospitaal geneem en verskyn vandag in die Delmas-landdroshof.