KIMBERLEY – Die jong belowende slot, Adré “Arie” Smith, is een van die Griekwaland-Wes Tafel Lager-spanlede wat homself in vanjaar se Curriebeker-rugbyreeks bewys.
Die boorling van Swellendam het aan die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal gematrikuleer.
Hy het die suidwestelike distrikte in 2015 by die Cravenweek-toernooi verteenwoordig. In 2018 het hy sy senior rugbyloopbaan by die Blou Bulle begin.
In die twee jaar by die Blou Bulle het hy slegs nege keer speelkans gekry.
Aan die begin van die jaar het Smith besluit om na Griekwas te verskuif.
“Ek het gevoel die afrigters het nie vertroue in my gehad nie en ek het besluit om na Griekwas te kom met die hoofdoel om meer speelkans te kry.”
“Ek wil meer tyd op die veld spandeer en geleentheid kry om myself in die span te vestig,” sê Smith.
‘n Interessante feit is dat hy basies dieselfde pad as Victor Matfield, die oud-Springbokslot, stap.
Beide het vir Tuks gespeel en as jong speler min speelkans by die Blou Bulle gekry. Matfield het in 1998 as jong slot vanaf die Bulle na Griekwas gekom. Hy het sy stempel by Griekwas afgedruk en na twee jaar uit die Poubloues sy Springbok-kleure verwerf.
Hopelik kan Griekwas hierdie jong slot ook slyp om die hoogste vlak te bereik.



