“Die oorlewendes van plaasaanvalle is ook slagoffers en die fokus moet ook op hulle geplaas word in ʼn debat oor die aangeleentheid, sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
“Dit is die mense wat ʼn plaasaanval oorleef het en met hul lewe moet aangaan met die trauma wat vele moes beleef om teenwoordig te wees tydens ʼn moord op een of meer gesinslede. Die meeste van hierdie lewende slagoffers is vroue en kinders.”
“Hoe groot is die trauma wanneer ʼn twaalfjarige dogter moet toekyk hoe haar ma verkrag word? Hoe groot is die trauma wanneer gesinslede moet toekyk hoe slagoffers met bore en kookwater gemartel en vermoor word? Dit brand nie net die slagoffers nie, dit brand ook in die geheue van die kinders.”
Om hierdie rede sê die VF Plus daar moet besondere aandag gegee word aan hierdie lewende slagoffers.
Die party sê ook dankie aan alle mense wat optredes hou ter bewusmaking van plaasmoord. “Die afgelope naweek se optog is ʼn goeie voorbeeld daarvan. Die publiek moet hiermee volhard. Daar moet optredes en demonstrasie wees teen plaasmoord, nie net woord nie.”
Die VF Plus wil sy dank uitspreek teenoor alle mense wat met hierdie bewusmaking volhard.
“Daar bestaan wel ʼn landelike veiligheidsplan met baie positiewe aspekte wat die polisie in 2019 opgedateer het. Dit moet nou net in werking gestel en uitgevoer word. Daar is groot bereidwilligheid onder die boere van Suid-Afrika om saam met die polisie te werk in die uitvoering van hierdie plan.”
Die VF Plus doen ook ʼn beroep op die minister van polisie (Bheki Cele) om weer ʼn indiepteondersoek na plaasmoord te doen soos met die spesiale ondersoek na plaasaanvalle en -moord in 2003 om te sien wat die grondliggende oorsake hiervan is.
“Plaasmoord kan nie gesien word as gewone misdaad nie. Met die eerste parlementêre debat oor die aangeleentheid op 14 Maart 2017 wat die VF Plus aangevra het, was die meeste politieke partye dit eens dat plaasmoord ʼn ernstige saak is wat ʼn groot bedreiging inhou vir voedselsekuriteit in die land.”
Met die debat in 2017 het die VF Plus die fokus laat val op die brutaliteit van aanvalle wat steeds aan die orde van die dag is. Dit is egter belangrik om te onthou dat oorlewendes ook slagoffers is wat aandag moet kry.



