Opvolg oor water

Deel hierdie storie / Share this story

Die 965 mm hoofwaterpypleiding van Riverton na Kimberley word tans herstel. 

Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê daar word vandag water uit die 965 mm-waterpyp gepomp. “As dit voltooi is, begin die sweiswerk.”

Riet sê die werksarea word tans skoongemaak weens die nat grondtoestande. 

“Nadat dit gedoen is, sal ‘n mobiele hyskraan gebruik word om die betonlugklepkamer te verwyder en ‘n veilige werksomgewing te verseker.”

“Die vier gate in die pyp agter Supermix sal tydelik met metaalplate gesweis word om lekkasies te stop.”

Die pyp lek glo al ‘n paar weke en het ‘n massiewe dam varswater in die nabygeleë veld gevorm.

Daar is besluit om die lekkasies te herstel nadat ‘n waterverlies aan die 965 mm-pypleiding daartoe gelei het dat die vlakke by die Newton-reservoir gedaal het, alhoewel Riverton op volle kapasiteit gepomp het.

Die water is alreeds vanoggend om 5:00 afgeskakel. Dit het die werkers in staat gestel om aan die Newton-reservoir en die 965-mm pyp te werk. 

Riet bevestig die watervlakke by die Newton-reservoir is tans 11,4 voet. “Ons verwag nie dat dit in hierdie stadium nodig is om die water in die nag af te skakel nie.”

“Hierdie is die nuutste verwikkelinge en daar word verwag dat die water teen 20:00 aan sal wees.”