KIMBERLEY – ‘n Groot terugslag het die Tafel Lager Griekwa-rugbyspan getref met die nuus dat Sias Koen, een van hul sleutelspelers, op pad na Frankryk is.
Koen het bevestig dat hy ‘n aanbod van die Franse klub, Baziers, aanvaar het.
Hy sê alles het uit die bloute gekom en is binne ‘n week afgehandel.
“Ek is dankbaar vir hierdie geleentheid, maar het gemengde gevoelens omdat ek beslis Griekwas sal mis. My vier jaar by Griekwas was ongelooflik en ek het ‘n sagte plek vir die Poubloues.”
Koen het sy skoolloopbaan aan Hoërskool Klerksdorp voltooi en in 2011 die Luiperds by Cravenweek verteenwoordig.
In 2014 het hy sy buiging vir die Sharks in die Vodombeker-kompetisie gemaak.
In 2016 het die losvoorspeler by Griekwas aangeluit en in 72 wedstryd uitgedraf.
Verlede seisoen het hy as leenspeler in sewe wedstryde die Cheetahs in die Pro 14 kompetisie verteenwoordig.
Mnr. Arni van Rooyen, HUB van GW rugby-unie het bevestig dat Koen na Frankryk op pad is.
Hy het gesê dat hulle Timbolani Bholia, van die Southern Kings, nader getrek het om Koen te vervang.







