“Sol Plaatje ontduik verantwoordelikheid van elektrisiteitstariewe”

Deel hierdie storie / Share this story

Die Demokratiese Alliansie (DA) is diep teleurgesteld oor die feit dat Sol Plaatje se beplande vergadering van die finansiële komitee om hoë elektrisiteitstariewe van Kimberley te bespreek, nie vandag voortgegaan het nie.

Dit is volgens Christopher Phiri, Rdl, DA Koukusleier, Sol Plaatje-munisipaliteit.

Phiri sê dit kom te midde van inwoners se woede oor onlangse voorleggings deur Andrẻ de Ruyter, finansiële hoof van Eskom. Dit wys dat Sol Plaatje ’n prysopslag van 84% op elektrisiteitsverkope hef, wat die elektrisiteit van Kimberley die duurste in die hele land maak.

“Behalwe dat ANC-amptenare die vergadering geboikot het en veroorsaak het dat die vergadering nie ‘n kworum bereik het nie, het selfs die burgemeester, Patrick Mabilo, nie eers vir die virtuele vergardering opgedaag nie. Die hoof finansiële beampte (CFO), Zahid Cader, het blykbaar ook ’n dubbele bespreking gehad vir ‘n ander vergadering.

“Die DA beskou die uitstel van die vergadering as onaanvaarbaar. ’n WhatsApp-kennisgewing is Maandagmiddag aan alle raadslede gestuur (sien foto hier). Mabilo en Cader het genoeg tyd gehad om hul skedules te herorganiseer om te verseker dat die elektrisiteitskwessie voorkeur geniet. Die feit dat hulle nie hierdie vergadering bygewoon het nie, is nog ‘n klap in die gesig van die inwoners van die stad, wie se geduld nou opraak.

“Die DA is van mening dat Sol Plaatje hierdie vergadering doelbewus ontwyk het hulle hul verantwoordelikheid vir die voortdurende uitbuiting van elektrisiteitstariewe in Kimberley wil vermy.

“Dit is dieselfde taktiek wat hierdie munisipaliteit altyd gebruik as dit kontroversiële kwessies raak. As hulle net so vaardig was in die bestuur van munisipale aangeleenthede as in die ontwyking van verantwoordelikheid, sou ons in ‘n baie beter stad gewoon het.

“Die DA sal nie voortgaan om ‘n situasie te verdra waarin raadslede en stadsbewoners in die duister gelaat word oor aangeleenthede rakende elektrisiteitstariewe nie.

“Inwoners van Kimberley wag vir antwoorde. Hulle wil weet of De Ruyter se stellings waar is en, indien wel, waarom en hoe dit gebeur het.

“Die DA is besig met ons eie pogings om inligting te bekom van die magte wat daar is, om meer lig te werp op hierdie tarieftwispunt. Ons is vasberade om hierdie saak na te streef totdat ons vol vertroue het dat elektrisiteitstariewe bekostigbaar en redelik vasgestel is.”

*mediaverklaring