Man vas oor hy gestremde meisie (7) seksueel mishandel

Deel hierdie storie / Share this story

’n Man (36) is gister in die Upington-streekshof tot agt jaar tronkstraf gevonnis vir die seksuele mishandeling van sy kleinniggie.

Die meisie, wat ten tye van die misdade sewe jaar oud was, is verstandelik en fisies gestremd.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die man het die meisie in Augustus 2012 in haar huis in Rosedale seksueel mishandel.

“Die ma van die slagoffer het haar saam met haar oom in hulle sitkamer gelos en toe sy weer later terugkom, het sy gesien hoe hy haar dogter molesteer,” sê Ramatseba.

Die slagoffer kon toe later vir haar ma sê dat hy met haar geslagsdele gespeel het. Sy het van ’n tablet gebruik gemaak om prentjies te teken.

Die verdagte is op 25 April 2017 in hegtenis geneem en het in aanhouding gebly tot sy verhoor.