GREENPOINT – Die Greenpoint-gemeenskap is vreeslik ongelukkig omdat die vullis in hulle omgewing vir die vierde week nie verwyder is nie. Die area se vullis moet op Dinsdae verwyder word.
Woodrow Lang, ‘n inwoner van Greenpoint, sê die feit dat die vullis nie verwyder word nie, dra by tot die toestande waaronder hulle moet leef.
“Die inwoners hier is besig om nou maar hulle vullis oral anders te gaan stort. Daar vorm nou onwettige stortingsterreine oral in Greenpoint.”
Lang sê die gemeenskap het al telkemale die probleem aangemeld, maar niks word daaromtrent gedoen nie.
“Ek is ‘n huiseienaar en ek betaal belasting. Ek kan nie verstaan waarom ek my verantwoordelikhede moet nakom, maar ek ontvang geen dienste nie.”
FiND iT het by die munisipaliteit navraag gedoen en wag nog vir terugvoer.



