Polisieminister Bheki Cele neem met skok kennis van die dood van drie Tshwane-metropolisielede wat Sondagoggend in ‘n botsing met ‘n vermeende dronkbestuurder betrokke was.
Die TMPD het in ‘n verklaring gesê die motoris het van die lede probeer wegjaag en is agtervolg. Die polisie het ook verskeie leë en vol drankbottels in die motoris se voertuig gevind. Lees die vorige berig hier.
Minister Cele het gesê sy medelye gaan uit na die oorledenes se familie.
“Die man se keuse om te drink en onverantwoordelik op te tree het die drie jong offisiere se lewens gekos. Alhoewel die alkoholverbod tydens vlak twee van inperking gelig is, bly dit diegene wat dit inneem, se verantwoordelikheid om nie hul eie of ander se lewens in gevaar te stel nie. As alkohol by die huis gebruik was, sou ons die lewens kon spaar,” sê Cele.
Cele het Suid-Afrikaners verder herinner aan die 22:00 aandklokreël.
“Hierdie is ‘n groot verlies vir die metropolisie, maar die offisiere sal aanhou om te verseker die wet word gehoorsaam.”



