Drie lede van die Tshwane-metropolisie (TMPD) is vanoggend vroeg dood toe ‘n vermeende dronkbestuurder reg van voor af in hulle vasgery het.
TMPD het in ‘n verklaring gesê ander lede het om ongeveer 02:00 ‘n motoris in die middestad in Pretoria gesien wat roekeloos teen die aankomende verkeer inry en hom agternagesit.

Die lede het bystand van nog beamptes ontbied en nog ‘n voertuig het by die jaagtog aangesluit. Die voertuig het toe reg van voor in die motor wat probeer wegjaag het, vasgery. Al drie die lede wat in die voertuig was, is op die toneel dood verklaar.
Die polisie het verskeie drankbottels in die motoris se voertuig gevind. Die bestuurder van die voertuig is ook op die toneel dood verklaar en die vrou wat saam met hom in die motor was, is na ‘n hospitaal geneem vir behandeling.



