Alle NK-leerlinge teen einde Augustus weer by die skool

Deel hierdie storie / Share this story

Die Noord-Kaapse departement van onderwys is gereed om die groot groep leerders, wat op 24 Augustus gaan terugkeer skool toe, te verwelkom. Daar sal altesaam 216 754 leerlinge na die skole terugkeer, behalwe graad 5- en graad 8-leerlinge wat eers op 31 Augustus weer op die skoolbanke gaan sit.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die departement van onderwys in die Noord-Kaap, sê alle skole het die verpligte persoonlike beskermingstoerusting ontvang. Skole het ook hulle tye so aangepas om sosiale distansiëring goed tydens skooltye te implementeer.

Om akademiese ondersteuning aan alle leerlinge te bied, selfs diegene wat nie skool kan bywoon nie, het die departement Learner Support Packages ontwerp wat teen volgende week aan alle distrikte uitgedeel sal wees.

Die departement moedig ouers aan om hulle kinders skool toe te stuur. Ouers van leerlinge wat weens onderliggende mediese probleme, familielede bo die ouderdom van 60 of ouers wat hulle kinders vir aanlyn-klasse ingeskryf het, moet deur die skool by die hoof van die departement aansoek doen.

Van der Merwe bedank ook alle ouers en leerlinge wat te midde van die Covid-19-pandemie aan hulle skoolwerk getrou gebly het.