Sol Plaatje moet elektrisiteit teen kosprys verkoop

Deel hierdie storie / Share this story

Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap daag die Sol Paatje-munisipaliteit uit om sy buitensporige elektrisiteitstariewe te hersien om sodoende die kosprys te weerspieël.

Dit is volgens Andrew Louw, LPW DA Noord-Kaapse provinsiale leier.

Verhoging op elektrisiteit

Dit kom nadat die uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, verlede week aan die Kaapstad Persklub gesê het dat Sol Plaatje-munisipaliteit ‘n verhoging van 84% hef op elektrisiteit wat by Eskom gekoop word. Dit maak van Kimberley se krag die duurste in die hele Suid-Afrika.

Dit is nie die eerste keer dat Kimberley onder die soeklig kom vir belaglike elektrisiteitstariewe nie. In 2018 is munisipale bestuur ontsetel weens die besluit om ‘n R260-fooi vir elektrisiteitsverkope te hef, wat die woede van inwoners van Kimberley laat opvlam het. Dit het tot verwoestende betogings in die stad gelei.

Terwyl Kimberliete al lankal vermoed dat ons baie dieper in ons sakke ingrawe as ander inwoners van die land, is ons bly dat De Ruyter dit eintlik bevestig het. Nou kan Sol Plaatje nie weer probeer wegskraam vir die waarheid nie. In werklikheid het die munisipaliteit se finansiële hoof, mnr. Zahid Cader, verlede week tydens ‘n portefeuljekomiteevergadering van die wetgewer probeer om die onredelike stygings van Sol Plaatje te verdedig deur te sê dat hulle die tarief slegs vir die huidige jaar met 6,22% verhoog het. Maar hy het gerieflikheidshalwe versuim om te sê hoeveel die munisipaliteit die tarief in vorige jare al verhoog het.

President Cyril Ramaphosa

Die feit is dat ons nou 84% meer betaal vir elektrisiteit as waarvoor Eskom elektrisiteit verkoop. Dit is eenvoudig onaanvaarbaar. Dit is geen wonder dat besighede nie meer in Kimberley wil belê of uitbrei nie en eerder verkies om werkskeppingsinisiatiewe elders te neem.

Dit is ‘n skande om inwoners van hierdie stad te laat betaal vir meer elektrisiteit as mede-Suid-Afrikaners wie in baie beter bestuurde munisipaliteite in die land woon. Kimberley is in die slegste toestand waarin dit sedert 1994 was. Selfs president Cyril Ramaphosa is deur die verslegting van die stad geskok tydens sy besoek vir die regerende party se 8ste Januarie-vieringe.

Terselfdertyd sit al hoe meer mense in die donkerte en in die koue omdat hulle verkies om kos te koop as elektrisiteit, wat as gevolg van die astronomiese pryse daarvan ‘n luuksheid in Kimberley geword het. Dít, terwyl De Ruyter sê dat Eskom se elektrisiteit eintlik een van die goedkoopste ter wêreld is.

Verlaag word tot kosprys

Terselfdertyd wil Sol Plaatje elektrisiteit ten duurste aan inwoners verkoop en het dan boonop die vermetelheid om nie hul eie betalings aan Eskom te maak nie. Cader het verlede week aan die portefeuljekomitee erken dat Sol Plaatje vir Eskom R140 miljoen skuld. In sy eie woorde het hy dit as ‘skokkend’ beskryf, aangesien Sol Plaatje nog altyd daarin geslaag het om Eskom te betaal.

Elektrisiteit is ‘n basiese noodsaaklikheid en dit is ook ‘n instrument om die ekonomie aan te dryf. Dit moet nie gemanipuleer word om ‘n inkomstebron te word vir munisipaliteite wat nie eens die moeite doen om Eskom terug te betaal nie.

Die DA neem kennis dat die uitvoerende burgemeester, Patrick Mabilo, ‘n ondersoek na die elektrisiteitsheffings sal loods. As Mabilo egter regtig ernstig is daaroor om die inwoners van Kimberley te bedien, sal hy sorg dat die elektrisiteitstarief verlaag word tot kosprys en ander maniere vind om inkomste vir die stad te genereer, insluitend die implementering van beter skuldinvorderingsmaatreëls. Hy is dit verskuldig aan alle inwoners van Kimberley, wat alle gevoel van trots in die stad verloor het en wat daaglikse munisipale uitdagings moet hanteer met betrekking tot slaggate, riooloorloop, sowel as ‘n vuil, onversorgde stad.

Sol Plaatje sal beslis nie die vonkel na Kimberley terugbring deur beleggers weg te stuur en die ligte af te skakel nie. Die munisipaliteit moet nou optree om elektrisiteit bekostigbaar te maak!

*mediaverklaring