KATHU. – “Wees stil, daar gaan ’n man verby.”
Dié ou gesegde van ’n groot gees wat op moeder aarde geloop het, is sinoniem met wanneer jy praat van Jan Enslin. Die kort man met amper ’n Hitler-voorkoms, maar wat ’n hart van goud gehad het.
Enslin is op die ouderdom van 63 in sy woonhuis in Kathu oorlede, na ’n siekbed wat met hom wipplank gery het vir die laaste paar jaar. Kanker is in 2017 by hom gediagnoseer.
Enslin was sekerlik een van die mees bekendste administrateurs in Griekwa-rugby, wat nie net diep spore in klubrugby die laaste dekade getrap het nie, maar ook in Griekwa-geledere.
FiND iT het gaan uitvind hoe sy vriende hom onthou.
Cassie Carstens, voormalige uitvoerende hoof van Griekwa-rugby, onthou vir Jan as ’n nougesette persoon wat vreeslik trots was op hoe dinge gedoen word. “Sy administrasie vermoë was uitsonderlik. Vir die meeste van die spelers was hy ’n pa. Alhoewel meeste van die oefeninge in Kimberley plaasgevind het, was hy eerste by die oefeninge en die laaste om te ry. Jan was vir meer as 10 jaar by verskeie spanne van Griekwas en Sishen spanbestuurder. Ons eerste ontmoeting was in die vroeë 90’s toe ek die 0/23 Griekwa span afgerig het en Jan die span se bestuurder was.”
Cassie Carstens onthou
Cassie en Jan het persoonlike vriende geraak, wat later oor en weer gekuier het. “Ek onthou nog die dag wat ons vir Andre Markgraaff ’n streep wou trek deur voor te gee ons kon die span se truie nie gereed kry voor ’n wedstryd teen die Valke nie. Ons het gesê Jan het daarop aangedring dat die voormalige president die truie moes saambring. Dit het natuurlik tot groot konsternasie en verwarring gelei. Die teendeel was dat Enslin se administrasie van ’n uitsonderlike hoe gehalte was.”
Carstens voeg by dat hulle darem in die laaste drie weke voor sy afsterwe die ou dae kon herdenk en meer as ’n uur op die foon gesels het. “Jan se plek is leeg in die kleedkamer maar vir ewig in ons harte.”
Boelie Fourie onthou
Boelie Fourie, jare lange vriend van Jan, onthou hom só: “In my speeldae by Sishen was Jan eers keurder en ook spanbestuurder. Daar het ons reis saam begin. Jare later sou ek Sishen afrig en Jan sou die span bestuur. Ek en Jan het soveel tyd op die pad spandeer agter wedstryde aan, dit sou onmoontlik wees om nie oor die weg te kom nie. Saam het ons vele welslae behaal en daar is ’n paar oomblikke wat vir my uitstaan. Ons het in 1990 die Noord-Kaapse klubkampioenskappe gewen, dit was iets waaraan Jan baie tyd en energie spandeer het. Daarna het ons saam die YSKOR-week gewen, was saam by NSA YSKOR-span betrokke en dit saam opgebou tot oorwinnaars van die eerste Nasionale SARU Amateur-kompetisie in 2009.” Geen taak was ooit te moeilik vir Jan nie, vertel Fourie. “Jan was ook pynlik netjies op homself. Ek sal nooit die aand vergeet toe ’n hulpafrigter waarby Jan die spanbestuurder was per ongeluk op sy blink gepoetste skoene gespoeg het nie. Jan wou slange vang!”
Fourie sluit af deur te sê dat elke wedstryd saam Jan baie spesiaal was en sy dogter (Jane) se troue vir Jan alle sportprestasies oorskadu het. “Jan sal onthou word as ’n beginselvaste man met Christelike waardes, respek vir sy medemens en ’n administrateur wat liefde en respek by sy medemens in oorvloed ervaar het.”
Andre Markgraaff onthou
Andre Markgraaf, voormalige president van Griekwa-rugby het ook sy medelye met Jan se gesin gedeel. Volgens Markgraaff was Jan die persoon wat Griekwa-rugby se juniorstrukture bymekaargehou het toe dit byna onmoontlik was. “Die respek wat hy by Griekwa-spelers, -afrigters en -administrateurs gekry het, was weens die feit dat hy nooit erkenning vir sy werk gesoek of gevra het nie. Jan was ’n deur-en-deur ’n rugbymens,” sê Markgraaff.
“Rugby in die Noord-Kaap is armer sonder Jan en dit is tragies dat die man wat die spel groter as homself gestel het nie, meer daar is nie,” voeg Markgraaf by.
Jan word oorleef deur sy vrou Elsa, seun Dawie en dogter Jane.



