“Ons praat nie oor die verlede nie, ons lewe vir vandag”

Deel hierdie storie / Share this story

Daar word beraam dat een uit elke vier vroue in hul leeftyd ’n miskraam sal ervaar of hul baba tydens geboorte aan die dood sal afstaan.

Zandilee Pepler (27), ’n mamma van ’n besige 3-jarige dogtertjie, gesels openlik met FiND iT oor die seer van ’n baba in die derde trimester verloor.

Liefde het geen ouderdom nie

Zandilee en haar man, Jaco Pepler (40), is al vier jaar getroud. “Ek is getroud met ’n baie goeie man. Hy is ’n baie sagte mens. Ons verskil 13 jaar.”

“Ek is ’n huisvrou en geniet dit vreeslik om deur die dag by Mienke te wees. Soms dink ons sy is al 13.”

Uitgevind van swangerskap

Die paartjie het in 2015 uitgevind dat Zandilee verwag. “Ons het op twee maande uitgevind. Ons het later uitgevind die baba is ’n dogtertjie.”

Alles was normaal op die sonars en volgens die dokter was alles reg, maar op sewe maande het Zandilee weer gegaan vir ’n sonar en het slegte nuus ontvang. “Die dokter kon nie die baba se kop sien nie en van daar was dit net ’n nagmerrie. Ek is verwys na ’n ander dokter wat gesê het die baba lewe, maar sy is nie gesond nie. Haar skedel en rugwerwels was misvorm.”

Moeilike besluit

Zandilee moes onmiddellik besluit tussen ’n keisersnee of normaal kraam. Sy het ’n keiser gekry en die baba is doodgebore.

“Ek was glad nie voorberei nie. Niks kan mens voorberei vir so iets nie. Vir my as persoon was dit baie erg. Ek wou glad nie weer daarna kinders hê nie. My man is ’n baie sagte mens. Dit was vir hom baie erger as vir my, maar ons het saam daardeur gekom.

Lig aan die einde van die tonnel

Die paartjie is twee jaar later met ’n gesonde babadogtertjie geseën. “Na ’n jaar het ek swanger geraak, al het ons voorbehoedmiddels gebruik. My man glo dit is ’n geskenk van bo.”

“Ek en my man praat nie oor die verlede nie. Dit is agter ons. Ons lewe vir vandag. Daar is dae wat ons aan die ander baba dink, maar ons is baie dankbaar vir ons woelwater wat vir ons gegee is om groot te maak en ons probeer om vir haar net die beste te gee.”