Inwoner raadop oor dreinprobleme

Deel hierdie storie / Share this story

“Dis ‘n aaklige reuk. Dis ondraaglik en dit maak mens siek. Elke keer as ons die toilet spoel, lyk dit so.”

Yvonne Barker, ‘n inwoner van Warrenvale, is raadop oor die drein wat in haar agterplaas oorloop.

“Ons sukkel al vir baie lank met die probleem. Die drein het in Januarie vanjaar begin probleme gee. Sol Plaatje-munisipaliteit se werkers het in Maart die drein kom oopmaak, maar twee weke gelede het dit weer kom probleme gee.”

Die werkers was volgens Barker weer intussen daar, maar het niks aan die probleem gedoen nie. “Hulle het gesê daar is ‘n bedrag wat betaal moet word voordat hulle aan die drein kan kom aandag gee. Ons het die geld aan hulle oorbetaal, maar niemand was nog hier nie.”

“Hier is klein kinders en dit hou ‘n groot gevaar vir hulle in. Allerhande siektes kan uitbroei. Ons kan hulle nie die hele tyd dophou nie. Partykeer speel hulle buite en dan beland hulle in die water.”

Yvonne sukkel ook met haar bors en is bang die reuk kan ‘n slegte impak op haar bors hê.

FiND iT het by die munisipaliteit navraag gedoen en Thoko Riet, woordvoerder vir die munisipaliteit, sê hulle neem kennis van die probleem en sal dit binnekort oplos.