Lego-stukkie sit vir twee jaar in seun se neus vas

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Lego-stukkie wat vir ongeveer twee jaar in ‘n seun (7) se neus vasgesit het, het wonderbaarlik uit sy neus geval.

Sameer Anwar het in 2018 vir sy ouers gesê hy het ‘n Lego-stukkie in sy neus gedruk. Mudassir Anwar, die seun se pa, sê hulle het hul bes probeer om die stukkie uit te kry, maar dit het vasgesit.

Anwar en sy vrou het Sameer na ‘n algemene dokter in die omgewing geneem. Die dokter het ook sy bes gedoen om die stukkie raak te sien, maar tevergeefs.

Die dokter se antwoord aan Anwar en sy vrou was dat die seun nie die Lego-stukkie in sy neus gedruk het nie, of dat dit in sy verteringstelsel beland het en sy lyf natuurlik sal verlaat.

Die gesin het van die vermiste Lego-stukkie vergeet, tot Sameer verlede naweek aan ‘n kolwyntjie geruik en ‘n pyn in sy neus gevoel het.

Hy het vir sy ma gesê hy het van die kolwyntjie se krummels opgesnuif. Sy het hom gehelp om sy neus te blaas, en die Lego-stukkie het uitgekom.

“Dit was ‘n groot skok. Daar was fungi ook daarop,” sê sy ma.

Bron: NZ Herald