Griekwa-rugbyspeler haak die knoop deur

Deel hierdie storie / Share this story

Ewald van der Westhuizen, een van die Griekwa-rugbyspelers, en Jackie le Roux, het onlangs te midde van die inperking die knoop deurgehaak.

Ewald sê hy en Jackie het aanvanklik ’n groter troue beplan, maar moes weens die inperking ‘n kleiner troue hou. Hulle troue sou in November wees, maar hulle het besluit om op 8 Augustus te trou, voor die piek van die virusgetalle.

“Daar sou eers 86 gaste by die troue wees. Ons kon toe net 48 mense nooi. Almal het gelukkig verstaan en niemand het te uitgesluit gevoel nie,” sê hy. “Dis moeilik omdat ek ’n spansport speel. Dit was moeilik om te kies wie om te nooi en wie nie.”

Die egpaar kon nie ‘n groot wittebrood hou nie, maar het in Bloemfontein goedjies vir hulle huis gaan koop om ’n bietjie weg te kom.

“Wat die toekoms behels – ons vat dinge nou net soos dit kom. Ons sal graag ’n babatjie wil hê, maar ons is nie haastig nie,” sê hy.