“Die mense wat sê dis lekker, jok vir hulself”

Deel hierdie storie / Share this story

“Somtyds wanneer die styf in jou bene te veel word en die kilometers op die teer alleen is, dan onthou jy waar jou reis begin het en waarom jy nie opgee nie.”

Marthinus Janse van Rensburg (46), ‘n operasionele bestuurder van Sasolburg, weeg vandag 43 kg minder as twee jaar gelede.

Janse van Rensburg het in Julie 2018 besluit om sy lewe te verander. “My motivering was my vrou en my drie seuns. Ek wil langer hier wees vir hulle. En om 20 treë te gee en dan te moet rus, was iets wat vir my te veel geraak het.”

Hy sê hy het in Januarie 2018 opgehou rook en kan nou soveel meer doen. “Ek kan uiteindelik aan goed deelneem. Ek kan op slides gaan, swem, rugby speel en saam met my seuns draf. Ek sukkel nie meer om in en uit my bad te klim nie. My asemhalingsprobleme, hoë cholesterol en hoë bloeddruk is alles iets van die verlede.”

Foto: Verskaf

Janse van Rensburg sê hy is nog nie klaar nie. Hy wil nog 10 kg verloor en beoog om saam met sy vrou aan die einde van September sy doelgewig te bereik.

Hy het die gewilde 28 dae-eetplan gevolg en eers ná hy drie maande op die program was, het hy begin oefen. “Dis baie belangrik om die plan presies te volg. Jy moet die besluit neem, jou kop moet reg wees en jy moet voorbereiding doen. As jy voorberei, kan jy nie verkeerd gaan nie.”

Hy vertel hoe party dae op die plan “aaklig” is. “Jy eet vir een ete net slaaiblare en sampioene. Die mense wat sê dis lekker, jok vir hulself. Dit is maar moeilik.”

Janse van Rensburg sê hy is een van die gelukkiges wat nie met los velle sukkel nie. Hy meen die maagoefeninge wat hy daagliks doen, help baie daarvoor.

Janse van Rensburg sê om ‘n doelwit voor oë te hê, is wat jou aan die gang hou op so ‘n lang pad. “En as jy sien jy het vir ‘n hele rondte net 1 kg verloor, vat ‘n blok margarien en sê vir jouself dis hoeveel vet jy verloor het. Om te visualiseer, help ook baie.”

“En as ons oumense dit kan doen, kan die jonges beslis ook!”