Kimberley-motorfietsryers beplan optog teen plaasaanvalle en -moorde

Deel hierdie storie / Share this story

Die motorfietsryers in Kimberley het besluit om ook in die vorm van ‘n optog hul stem dik te maak teen plaasaanvalle en -moorde.

Henmar Wiese, president van die Iron Skulls MC Club in Kimberley, gesels met FiND iT oor hoekom hulle besluit het om dié optog te hou.

“In die stadium van die geveg gooi meeste mense ‘n blinde oog as dit kom by plaasaanvalle en -moorde in ons land. Ons het egter besluit dis nou die tyd om op ‘n vreedsame manier aksie te neem teen hierdie dinge.”

Wiese vertel hoe sy pa ook ‘n paar jaar gelede die slagoffer in ‘n rooftog was.

“Ons grootste doel is bewusmaking. En ons wil graag hê die boeregemeenskap in Kimberley en die omliggende areas moet saamstaan. Ons streef almal tog na dieselfde doel.”

Honderde motorfietsryers beplan om op 29 Augustus om 09:00 op by die Shell Ultra City-vulstasie in Kimberley bymekaar te kom. Die konvooi motorfietse, motorvoertuie en trekkers sal dan ‘n uitgewerkte roete deur Kimberley volg.

“Ons is nou agt motorfietsklubs wat aan die optog gaan deelneem. Enigiemand met enige tipe vervoer is welkom om aan die optog deel te neem,” sê Wiese.

Hulle beplan om wit armbande, wit kruise op hulle helmets en plakkate te dra.

Die konvooi sal dan aan die einde van die optog vir ‘n oomblik by die sirkel stil raak om te bid, waarna elkeen in hul eie rigting sal gaan.

“Ek wil net by voorbaat baie dankie sê aan al die klubs wat ‘n bydrae wil en gaan maak tot die sukses van die optog,” eindig Wiese.