Polisiesersant op huisbraaktoneel doodgeskiet

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Aktiveringsplan van 72 uur is onmiddellik aan die gang gesit om verdagtes in hegtenis te neem na die moord op ‘n polisieman gisteraand in Port Elizabeth.

Brig. Vish Naidoo, die nasionale polisiewoordvoerder, sê lede van die Anti Gang-eenheid het gereageer op ‘n inbraak by ‘n huis in Kuyga toe hulle die bakkie wat tydens die huisbraak gesteel is, raakgesien het.

Die polisie het die bakkie agternagesit en die verdagtes het uiteindelik die bakkie agtergelaat. Een van die verdagtes het verskeie skote op die 44-jarige sersant afgevuur voor hy te voet gevlug het. Die polisiesersant het oombliklik gesterf.

Die sersant se kollega kon een van die verdagtes vastrek en ‘n vuurwapen waarvan die reeksnommer afgeskuur is, is gekonfiskeer.

Die gesteelde bakkie en baie ander gesteelde goedere, onder andere ‘n televisiestel en selfone, is gekonfiskeer.

Die soektog na die tweede verdagte is sedert gisteraand aan die gang.

Enigiemand wat inligting het oor waar die tweede verdagte hom bevind, kontak die SAPS Crime Stop by 086 001 0111.