Nie-nakoming van koronavirus-verwante protokolle in hospitale moet einde kry

Deel hierdie storie / Share this story

Die Demokratiese Alliansie (DA) doen ’n dringende beroep op die Noord-Kaapse LUR van Gesondheid, Maruping Lekwene, om ’n oudit by alle hospitale in die provinsie te doen om die stand van die nakoming van koronavirus-verwante riglyne vas te stel.

Dit kom nadat nog ’n gesondheidsfasiliteit, die Connie Vorster-hospitaal in Hartswater, vandag sy deure gesluit het nadat personeel buite die fasiliteit gestaak het. Personeel is glo ongelukkig dat die hospitaal steeds nie ontsmet is nie, ondanks die twee koronavirus-verwante sterftes wat onlangs by die fasiliteit gebeur het. Een van die oorledenes is ’n personneellid by die fasiliteit.

Benewens die kwessies rakende die ontsmetting van die fasiliteit, het die DA ook verneem dat koronavirus-pasiënte nie noodwendig van algemene pasiënte geskei word nie en dat hulle sale en ander fasiliteite moet deel.

“Die feit dat die hospitaal nie gereed is om asemhalingsapparate te gebruik nie, is ook kommerwekkend. Volgens inligting moes drie pasiënte wie positief vir koronavirus getoets het en in ’n ernstige toestand was, blykbaar na die Robert Mangaliso Sobukwe (RMS) -hospitaal in Kimberley vervoer word,” het Andrew Louw, DA Noord-Kaapse provinsiale leier, vandag in ’n persverklaring gesê.

 “Net verlede week het ’n soortgelyke situasie by die De Aar-hospitaal ontstaan. Daar was voor die situasie in De Aar ook soortgelyke probleme by die Prof ZK Mathews-hospitaal in Barkley-Wes. Die bogenoemde kommer benodig dus dringende aandag.”

“Die DA verstaan nie hoe basiese protokolle, op hierdie stadium van die pandemie, nog steeds nie by alle gesondheidsfasiliteite regoor die provinsie toegepas word nie. Die proses van ontsmetting moes sekerlik teen nou al standaardpraktyk gewees het? Dit is ook ondenkbaar dat ‘n hospitaal, ten spyte van soveel sogenaamde fokus op kwarantyn- en isolasieterreine, dit aanvaarbaar sal ag om gewone pasiënte saam met pasiente wat positief vir koronavirus toets, te sit. Ons kan net wonder waarom hospitaalbestuurders nie in sulke gevalle aanspreeklik gehou word nie?”

“Terselfdertyd is ons toenemend bekommerd oor die gebrek aan ventilasiekapasiteit in die provinsie. Sover die DA weet, het RMS-hospitaal slegs sowat vyf werkende ventilators in die intensiewe sorgeenheid vir die koronavirus. As die RMS-hospitaal na alle kritieke koronavirus pasiënte van regoor die provinsie moet omsien, sal daar baie voorkombare sterftes wees. Ons weet dat die provinsie ‘n aantal ventilators aangeskaf het, maar waar is hulle en waar is die gespesialiseerde gesondheidswerkers wat bedoel is om dit te benut?”

“Die DA begin moeg word vir die trae bestuur van die pandemie deur die provinsiale departement van gesondheid. LUR Lekwene het baie werk om te doen in ‘n kort tyd, as hy ’n koronavirus-bom in die Noord-Kaap wil voorkom.”