Gidshonde word steeds nie oral toegelaat nie

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Yvette le Roux* (56) het op 13 Julie vir Preston, Pepper se boetie, gekry om haar met alledaagse dinge te help.

Le Roux bly alleen en ly aan veelvoudige sklerose, wat maak dat sy maklik goed laat val en sukkel om ‘n deur of ‘n laai oop te maak.

Preston, haar gidshond wat sy by die SA Dog Association gekry het, help haar met dié tipe dinge. “Hy loop saam met my en sal keer as ek dalk wil omval; hy help my om ‘n laai oop te maak as ek sukkel.”

Preston is deur SA Dog Association opgelei en gehoorsaam opdragte direk van Le Roux.

Soos Pepper die 12-jarige Jayden se lewe verander het, het Preston ook ‘n groot impak op Le Roux se lewe. Jayden het nie-verbale outisme en is die eerste in die Noord-Kaap om ‘n gidshond te hê. Lees die vorige berig hier.

Le Roux vertel hoe sy egter hartseer is en nie kan verstaan waarom sy sukkel om saam met Preston by ‘n winkel in te gaan nie. “Hulle vra nie eers of ‘n mens blind is nie; daar word net nee gesê.”

Rozel Pieterse, Jayden se ma, sê hulle sit met dieselfde probleem met Pepper. “Hulle wil Jayden en Pepper nie by winkelsentrums laat ingaan nie omdat Jayden nie blind is nie. Dis ‘n jammerte dat mense nie besef hoeveel ‘n gidshond vir iemand wat outisme of sklerose het, kan beteken nie.”

*Skuilnaam