Drie verdagtes is op Warrenton in hegtenis geneem na die polisie kreefsterte ter waarde van R6 000 in koelbokse in ’n motorvoertuig gevind het.
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die polisie was vroeg vanoggend op patrollie op die N12 toe hulle ’n motor, wat teen ‘n hoë spoed beweeg het, gestop en deursoek het.
Volgens brig. Ramatseba het die polisie twee groot koelbokse met kreefsterte daarin in die motor gevind. Die verdagtes kon glo geen permit vir die vervoer van die kreefsterte wys nie en is in hegtenis geneem.
Die verdagtes van onderskeidelik 22, 25 en 43 jaar oud, verskyn binnekort in die landdroshof op Warrenton.







