Vrou wat miskraam het, steel glo ander vrou se baba

Deel hierdie storie / Share this story

Die twee maande oue baba wat gister by die Bloemspruit-kliniek in die Vrystaat vermis geraak het, is by die huis van ’n 38-jarige vrou opgespoor.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die vrou wat die baba vermoedelik ontvoer het, was glo self swanger, maar het haar babatjie verloor. Sy was bang om haar man, wat weg van die huis af werk, daarvan te vertel. Sy het aansoek gedoen om ’n baba aan te neem, maar het uitgevind die proses neem baie lank.

Toe die verdagte die dag vir ’n afspraak kliniek toe is, het sy die 18-jarige en haar baba daar gesien, sê Makhele. “Sy het met haar vriende gemaak en toe daar vir die ma gesê is sy kan nie met haar baba by die kliniek in nie, het die verdagte aangebied om die baba vir haar vas te hou voor sy met hom verdwyn het.”

Die baba is volgens Makhele na ’n hospitaal gestuur waar hulle die nodige toetse gedoen het voor hy met sy ma herenig is. Die verdagte is in hegtenis geneem.