Daar is ’n paar kossoorte wat diere glad nie kan eet nie. Jy as eienaar moet hierdie kos so ver as moontlik van jou troeteldier af hou.
Sjokolade, koffie en kafeïen
Hierdie produkte bevat almal die stof methylxanthines, wat in kakao voorkom. As dit deur troeteldiere ingeneem word, kan dit braking, diarree, oormatige dors, hiperaktiwiteit, abnormale hartritme en selfs die dood veroorsaak. Let daarop dat donker sjokolade gevaarliker is as melksjokolade.
Druiwe en rosyne
Hierdie vrugte kan nierversaking in troeteldiere veroorsaak.
Makadamianeute
Macadamia neute kan swakheid, depressie, braking en hipertermie by honde veroorsaak. Tekens verskyn gewoonlik binne 12 uur na inname en kan ongeveer 12 tot 48 uur duur.
Neute
Neute, insluitend amandels, pekanneute en okkerneute, bevat groot hoeveelhede olies en vette. Die vette kan braking en diarree by troeteldiere veroorsaak.
Uie en knoffel
Hierdie groente en kruie kan irritasie van die spysverteringstelsel veroorsaak en kan lei tot skade aan rooibloedselle. Alhoewel katte meer vatbaar is, loop honde ook ’n risiko as ’n groot hoeveelheid ingeneem word.
Rou vleis, eiers en bene
Rou vleis en rou eiers kan bakterieë soos salmonella en E. coli bevat wat skadelik vir troeteldiere en mense kan wees. Rou eiers bevat ’n ensiem genaamd avidien wat die opname van biotien (‘n B-vitamien) verminder, wat tot velprobleme kan lei. Om ’n rou been aan jou troeteldier te gee, kan egter baie gevaarlik wees, want jou troeteldier kan verstik of ’n ernstige besering opdoen.



