Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap doen ‘n beroep op die provinsiale bevelsraad om ‘n beter greep op die koronavirus-pandemie en die provinsiale regering se gesondheidsrespons te kry. So nie, loop ons die risiko dat hulle geweeg en te lig bevind sal word wanneer die voorkomssyfer skielik begin styg.
Gedurende ‘n vergadering van die portefeuljekomittee van samewerkende regering vandag is daar genoem dat mense in die ZF McGawu-distrik tussen vier en tien dae moet wag om hul koronavirus-toetsuitslae te ontvang. Dit kom ondanks die versekering dat die dae van toetsagterstande verby is.
Toetse wat so verouderd is, hou ‘n risiko in vir pasiënte en hul direkte gemeenskappe. Dit veroorsaak ook dikwels ‘n vermorsing van hulpbronne.
Die provinsiale regering moet deursigtig wees oor die werklike toetsvermoëns van die provinsie. Ons weet almal teen die tyd dat toetse wêreldwyd opraak en dat onnodige toetsing beperk moet word. Maar ons weet nog steeds nie hoeveel toetse daagliks vir die provinsie verwerk kan word nie. Dit is belangrik, aangesien ons al meer as 300 positiewe gevalle in ‘n periode van vier en twintig uur ervaar het. Is die laboratorium in Kimberley hiervoor toegerus, en indien nie, word daar nog toetse na die Vrystaat gestuur? Mense verdien om te weet.
Die DA is ook bekommerd oor die gebrek aan visie en beplanning in terme van die koronavirus-reaksie van die provinsie. Ons het verlede week tydens ‘n vraag-en-antwoord-sessie met die premier, dr Zamani Saul, wat ook die hoof van die provinsiale bevelsraad is, gesien dat daar belangrike aspekte ten opsigte van die koronavirusreaksie is, waaraan hy en sy span nie aandag gee nie. Ek sou verwag het dat hy meer sou weet oor hoeveel van die lewensnoodsaaklike medisyne soos Dexamethasone, en ander medisyne wat met die koronavirus verband hou, in provinsiale voorraad is, en in watter mate die provinsie toegerus is om hoë vloei nasale suurstof te verskaf.
Dit is dinge soos hierdie wat ons laat dink dat die Noord-Kaapse regering hierdie pandemie steeds nie so ernstig opneem as wat dit moet nie. Alhoewel ons almal positief en hoopvol wil bly dat die koronavirus-modelleringsprojeksies vir die provinsie nooit sal voldoen aan die hoë besmetting en sterftesyfers wat voorspel is nie, kan ons nie ons koppe in die sand steek nie en die koronavirus eenvoudig wegwens nie.
As ons infeksies en sterftes wil beperk, moet die provinsiale bevelsraad meer betrokke raak en ‘n aktiewe rol speel in die koördinering van die provinsie se toekomstige reaksie op die koronavirus.



