Krisis dreig oor Covid-19-kwarantynsentrum by Potchefstroom

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – Tydens ‘n besoek van lede van JB Marks se Covid-19-taakspan aan die pas ingerigte kwarantynsentrum by die Potchefstroom Dam-ontspanningsoord, was dit duidelik dat hierdie sentrum nie gereed sal wees om Covid-19-gevalle te  hanteer teen 31 Julie wanneer die sentrum aan Noordwes se gesondheidsdepartement oorhandig moet word nie, sê Matthys van Tonder, VF Plus-raadslid.

Basiese higiëne

“Daar is nie basiese bad- of stortgeriewe in die rondawels, of die ablusieblokke nie. Daar kan dus nie aan basiese higiëniese standaarde voldoen word nie. Daar is ook nie kookgeriewe in die wooneenhede nie.”

Noordwes te dien

“Hierdie sentrum is veronderstel om as een van die sleutel-kwarantynpunte in Noordwes te dien met die verwagte toename in Covid-19-gevalle in die provinsie.”             

Versekering by herhaling

“Hierdie feite het nou aan die lig gekom nadat die taakspan reeds by herhaling die versekering gegee is dat die terrein gereed is vir oorhandiging aan die Noordwes-gesondheidsdepartement.”

Versekering deur speaker

“Die speaker in die raad, Elias Mogoeemang, het ook op 16 Julie aan die Kenneth Kaunda-distriksraad dieselfde versekering gegee. Dit is ook so aan die provinsiale staande komitee op openbare rekeninge gerapporteer.”

Munisipaliteit

“Die koste van hierdie sentrum by die Potchefstroom Dam-ontspanningsoord beloop volgens die munisipaliteit reeds R1,9 miljoen. Die provinsiale staande komitee op openbare rekeninge, sowel as die provinsiale tesourie, het reeds ander Covid-19-verwante uitgawes van die munisipaliteit bevraagteken en aangedui dat dit ondersoek gaan word.”                            

Vermorsing van miljoene

“Die JB Marks-gemeenskappe ly reeds vir ‘n geruime tyd onder deurlopende wanbestuur en die vermorsing van miljoene rand se belastinggeld deur die ANC-beheerde munisipaliteit.”

“Hierdie stand van sake is ‘n skandvlek op die naam van ‘n eens vooruitstrewende munisipaliteit,” sê Van Tonder.

•Media release