HARTSWATER – ’n Man, vrou en dogter is glo gister tydens ’n plaasaanval op Magogong-plotte, Hartswater, ontvoer. Die familie se silwer Mazda 5-stasiewa word na wat berig word ook vermis. Bloed is na bewering in die tuiste gevind.
Volgens ’n boodskap wat deur Rhino Security and Armed Response uitgestuur is, is drie voertuie geneem, maar twee is reeds opgespoor. Die derde voertuig word steeds vermis.
“’n Plaasaanval het op Magogong, Hartswater, plaasgevind. Drie voertuie is gevat. Die eienaar, sy vrou en dogter is ontvoer. Bloed is in die huis gevind. Die {situasie in die} huis dui op ’n struweling. Twee voertuie is gevind, een word nog vermis. Die voertuig wat vermis word, is ’n silwer MX5,” lui die boodskap.
Michael Slabbert, van Rhino Security, het aan FiND iT bevestig die familie is ontvoer. “Die voorval het gistermiddag plaasgevind, maar dit is eers vandag ontdek. Ons is almal op die uitkyk en probeer alles moontlik om die mense op te spoor.”
’n Familielid het in ’n Facebook-inskrywing gesê familie het bekommerd geraak toe hulle nie die gesin vandag in die hande kon kry nie. “Ons het gister 12:00 laas met hulle gepraat, maar het onrustig geraak toe ons hulle nie vandag kon kontak nie.”
Enigiemand met inligting moet die volgende nommer skakel:
Kantoor: 066 257 5424
Michael: 082 769 4210
Criminal Intelligence: 084 055 8104



