Soos slagskape op plase

Dagsê Jimmi,

As jy sensitief is, of te jonk, moenie verder lees nie. Ek is ernstig.

Dis wat gebeur het:

Sjuut! Bliksem! Die mense gaan ons hoor!

Dis skuins ná middernag toe vier mans agterom die plaashuis sluip, waar hulle ‘n oop venster sien. Hulle klouter deur. Sluip geruisloos deur die huis. Maak seker daar is nie ander mense in die huis nie. Dan sit hulle die hoofslaapkamer se lig aan.

“Wat de…!?” bulder die boer.

Die vrou sit regop in die bed, bevrees, beangs.

Een van die mans loop vinnig nader en druk die mes teen die boer se keel. Sy maters help om die man vas te druk. Hy wil terugbaklei, maar die punt van die mes dring deur sy vel. Stadig, tot binne-in sy strottehoof.  Hy sluk, terwyl sy oë rol. Hy roggel. 

Die man trek die mes uit en druk dit in die boer se mond. Sny sy tong af. Die roggel word ‘n doodsroggel.

Een van die mans het ‘n sigaret opgesteek. Half gerook, druk hy dit uit in die boer se regteroog. ‘n Ander man sit sy mes teen die boer se keel. En sny. Vinnig en diep.

Sy vrou se gille word gedemp deur twee hande wat haar mond toedruk.

Die mans laat die lewelose liggaam agter en sleep die vrou na die sitkamer toe, waar hulle haar aan ‘n stoel vasmaak.

Intussen het een van die vier makkers water gaan kook in die kombuis. Hy bring die ketel na die sitkamer en gooi dit stadig, stadig, op die vrou se naakte rug. Haar gille spoor die helde net verder aan – wetende dat niemand binne hoorafstand is nie.

Die volgende dag kom ‘n plaaswerker op die toneel af. Hy vind die man op die bed. Die vrou lê in die sitkamer op haar rug. Die werker weet nie of sy voor, of ná haar dood verkrag is nie. En in watter stadium haar oë uitgesny is nie.

Die familie het later bevestig dat niks gesteel is nie.  

Plaasmoorde is op hul beste ‘n sensitiewe saak. Soveel perspektiewe, soveel statistiek, soveel menings.

Dis algemene kennis dat pres. Cyril Ramaphosa in Spetember 2018 in Amerika aan pres. Donald Duck – en bedoel, Trump – ontken het dat daar iets soos plaasmoorde in Suid-Afrika plaasvind.

Jou Oom Boet was nie daar nie, Jimmi, so ek weet nie wie om te glo nie. Maar kom ons laat daardie voorval, as dit een was, daar. Ek soek vandag geloofwaardige statistiek oor plaasmoorde. Noudat die skynbaar weer mode geword het om weerlose mense aan te val, te martel, te vermoor.

Ek moet sê, my vriend, ek is maar lugtig vir statistiek. Dis nes die geskiedenis – jy interpreteer dit uit die spesifieke hoek waarvandaan jy daarna kyk. Die een persoon se vryheidsvegter is immers die ander se terroris.

Maar tog. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die wêreldwye syfer vir moorde is 7 uit elke 100 000. Suid-Afrika se jongste statistiek, beweer hy, staan op 35 uit elke 100 000. Vyf keer meer as die wêreld-gemiddeld.

Kom dit by boere, staan hierdie syfer op 150 uit elke 100 000, sê hy. Dis meer as vier keer meer as die nasionale gemiddelde. Jy kan na hierdie statistiek kyk nes jy wil, Jimmi, maar die aantal grafte gaan nie lieg nie.

Nou, jy kan sê dis “gewone misdaad”, soos Groot Beer graag beweer. Maar jou Oom Boet sluk swaar daaraan. Van wanneer af is dit “gewoon” om slagoffers te martel? Hulle met kookwater te gooi? Met vuurwarms strykysters te brand? Selfs sonder om iets te steel?

As dit “gewone” misdaad is, wil ek nie weet wat “ongewone” misdaad is nie.

Jy begin wonder hoekom ek vandag oor hierdie saak tob? Ek sal jou sê, Jimmi. Dis die stilte uit die presidensie en die kabinet wat my vang. Waarom swyg Groot Beer en Goue Kopdoek en die klein beertjies oor hierdie euwel? Kom ek vra dit meer pertinent: Wie beskerm hulle deur hul stilswye?

Nog meer: Hoekom beskerm hulle die misdadigers? Wat dis presies wat hulle doen – of altans, so lyk dit vir jou Oom Boet. En intussen dreineer die bloed, stadig maar seker, die land totdat daar nie meer suurstof oor is nie. We cannot breathe

Daar is mense wat sê dis net regses wat oor plaasmoorde kla. Dis nou suiwer bollie.

Ek het jou gewaarsku om nie verder te lees nie, Jimmi.

Wederom,

Johan Retief (oftewel Oom Boet)

Jou Oom Boet gaan nou eers ‘n rukkie rus. Wie weet, later skryf ek dalk weer vir jou. 

LEES MEER HIER OP FIND IT NUUS.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


The maximum upload file size: 10 MB.
You can upload: image.
Links to YouTube, Facebook, Twitter and other services inserted in the comment text will be automatically embedded.

%d bloggers like this: