Kandidaatprokureurs hoef nie meer hulle eie voertuig of bestuurslisensie te besit nie. Ook hoef kandidaatprokureurs nie verder Engels én Afrikaans-vaardig te wees nie.
Dis van die voorstelle wat gemaak is ten opsigte van die wysiging van die wet op regspraktisyns deur die Regspraktisynraad.
Henru Krüger, beroepsgilde-sektorhoof van Solidariteit, sê dié voorstelle is kommerwekkend.
“Daar is onlangs berig dat die Regspraktisynsraad vasbeslote is om regsfirmas te verbied om te vereis dat voornemende kandidaatprokureurs hul eie voertuig en bestuurslisensie moet besit, en die Raad het aangedui dat sodanige vereistes ‘anti-transformasie’ is. Verder is ook berig dat ’n ondersoek getoon het dat dosyne advertensies vir kandidaatprokureurs vereis dat vaardigheid in Afrikaans saam met Engels verlang word en dat sekere advertensies slegs Afrikaanssprekendheid vereis.
“Luidens die konsepkennisgewing is die raad van mening dat hierdie praktyk anti-transformatief en benadelend is teenoor persone uit agtergeblewe agtergronde. Die wysigingsvoorstel gaan ook verder deur te bepaal dat ’n prinsipaal verbied sal word om ’n praktiese indiensnemingskontrak aan te gaan wat enige ‘onredelike’ of ‘ongewone’ bepalings bevat. Dit skep egter onsekerheid omdat geen maatstawwe gestel word vir wat as ‘onredelik’ of ‘ongewoon’ beskou sal word nie, of wie sal bepaal wat ‘onredelik’ of ‘ongewoon’ is nie.”
Krüger sê dit sou dus beteken dat ʼn prokureur hom aan wangedrag sal skuldig maak indien sy posadvertensie vir ’n kandidaatregspraktisyn vereis of bepaal dat die geskikte kandidaat oor ’n geldige bestuurslisensie, eienaarskap van ‘n motorvoertuig of toegang tot ’n motorvoertuig moet beskik. “Verder was daar ook nog nooit voorheen ’n bepaling in die reg ten opsigte van wat ‘ongewoon’ is nie.”
Die Regsgilde meen dat daar ’n definitiewe onderskeid gemaak moet word tussen wat praktiese, inherente vereistes vir ’n pos is, wat nie-diskriminerend en in ooreenstemming is met bestaande arbeidswetgewing, en wat diskriminerend is en reeds as sodanig in die Grondwet uiteengesit is.
“Daar moet gemeld word dat heelwat prokureurs daarop staatmaak dat kandidaatprokureurs moet reis om belangrike take uit te voer, soos om sekere soorte kennisgewings te bedien, en in baie gevalle moet ’n kandidaatprokureur alleen kan reis. Die noodsaaklikheid om te weet of ’n kandidaatprokureur ’n geldige bestuurslisensie het, kan ook belangrik wees in gevalle waar daar middellike aanspreeklikheid kan wees vir ’n bestuursvoorval, botsing of ongeluk,” voer Krüger aan.
Die taalvereiste is ook bloot ’n praktiese, nie-diskriminerende element wat bepaal word deur ’n kliëntbasis wat bedien moet word en wat as sodanig reeds erken is deur die Regshulpraad en uitgewys is in toonaangewende navorsing. Die Regspraktisynsraad het in 2019 gepoog om Afrikaans eensydig af te skaf sonder ’n behoorlike konsultasieproses, maar dit is in die hof gestuit deur die Vereniging van Regslui vir Afrikaans.
Hierdie wysiging sal die volgende implikasies vir die regsberoep inhou:
- Minder firmas gaan onder hierdie omstandighede kandidate aanstel, en dié wat wel doen, gaan minder aanstel as wat hulle andersins sou.
- Dit jaag koste op en veroorsaak onsekerheid vir diegene in die regsberoep. Dit hou ook jongmense uit die beroep, terwyl ons ongekende jeugwerkloosheid in ons land beleef.
- Dit is ʼn verdoemende voorskou van wat die Regspraktisynsraad vir die regsberoep beteken indien dit toenemend inmeng in die bedryf van die beroep in plaas daarvan om die beroep te reguleer, en die Raad gebruik word om politieke en ideologiese agendas op die regsberoep af te dwing.
- Die punt oor taal hou ook gevolge in vir vryheid van assosiasie bo en behalwe die praktiese uitdagings wat dit inhou.
“Dit is van kardinale belang dat hierdie beroep en sy verskeie regte beskerm moet word en dat dit nie voorgeskryf word deur ’n raad wat ideologie propageer eerder as om na die werklike implikasies te kyk nie,” sluit Krüger af.



