#InBlyTeenPlaasmoorde: Optog teen plaasmoorde beplan

Deel hierdie storie / Share this story

’n Optog teen plaasmoorde sou aanvanklik môre 18 Julie plaasvind, maar sal nou virtueel via Facebook geskied.

Duisende mense sou aan die optog deelneem. Die organisasie wat die optog beplan het, onder leiding van Devon Hofmeyr, sê die doel is om hul ontevredenheid oor die gereelde plaasmoorde uit te spreek.

Die Tshwane-metropolisie het vanoggend die optog, wat by die Uniegebou sou plaasvind, se planne in die wiele gery weens die Covid-19-situasie in die land.

Die Tshwane-metropolisie het vanoggend in ’n verklaring gesê die optog mag nie voortgaan nie en indien dit voortgaan, dit as onwettig beskou sal word.

Hofmeyr het sy ontevredenheid hieroor op Facebook uitgespreek.

“Ek het alles in my vermoë gedoen om ons te kan kry om voort te gaan. Ek is ongelukkig nie iemand wat my mense in ’n onwettige situasie gaan plaas waar mense se lewens in op die spel geplaas word nie. As ons wil deelneem in onwettige doenighede, krimp die onderskeiding tussen ons en plaasaanvallers.”

Hy het toe aangekondig die optog sal om 12:00 op Facebook geskied. “En dit is wat ons gaan doen. Ek, Devon Hofmeyr, en die hele paneel daag elke liewe een van julle uit om Saterdag op die kop 12:00 ’n foto of ’n video van jouself te plaas waar jy jou stem dik maak teen plaasmoorde. Saam met hierdie video is die volgende hashtags uiters belangrik: #lockdownfarmmurders #inblyteenplaasmoorde.”