’n Lyk wat gister uit ’n meer in Kalifornië gehaal is, is geïdentifiseer as die vermiste Naya Rivera (33), bekende Glee-ster wat sedert Woensdag vermis was.
Rivera het Woensdag ’n boot gehuur en saam met haar 4-jarige seuntjie, Josey Dorsey, op die meer gaan vaar. Na die boot se huurtyd verstryk het en ’n werknemer die verlate boot opgespoor het met net Josey daarop, is ’n soektog na Rivera aan die gang gesit. ’n Reddingsbaadjie is op die boot gevind en Josey het die ander een aangehad.
Hy het aan ondersoekbeamptes gesê dat hy en sy ma geswem het, maar dat sy ma nie weer op die boot geklim het nie.
Rivera se lyk is gister naby die oppervlak van die meer gekry.
Bill Ayub, sheriff van die Ventura-distrik, het gesê daar is geen aanduiding dat daar vuilspel was of dat sy selfdood gepleeg het nie. Volgens hom het Rivera die laaste van haar krag gebruik om haar seuntjie te red voordat sy dood is.
Bron: CNN



