George Floyd – en Paulus

Dagsê Jimmi,

Sy naam is George. George Floyd.

Teen hierdie tyd is daar min mense in die wêreld wat nie weet wie hy was en wat met hom gebeur het nie.

Black Lives Matter. “I cannot breathe.”

Dit was iets aller-verskrikliks. Jou knie op iemand se keel, tot hy smeek om asem. Jou ore doof vir sy hulproep. Jou hart so koud soos klip – waarskynlik soos wyle Jimmy Kruger s’n (dis ‘n ander Jimmi, Jimmi), wat van Steve Bantu Biko gesê het: “Sy dood laat my koud.”

Dieselfde vent, die einste Jimmy, wat in Amerika snaaks probeer wees het toe hy gevra is oor die toepassing van die doodstraf in Suid-Afrika. Hy het toe iets soos dit kwytgeraak: “If they are afraid to be hanged, let them do what golfers do – let them take a practice swing.”

En toe was daar jou werklikwaar mense wat gelag het. Ja, Jimmi, ek meen dit was joernaliste. Sommige van hulle het dit skynbaar snaaks gevind.

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

My beskeie bydrae tot hierdie debat is dit: Soos met alle ander sake waaraan jy niks kan doen nie, kan jy ten minste kies hoe jy daarop reageer. Soos mense, wêreldwyd, wat die Black Lives Matter-veldtog ondersteun. Ek is saam met hulle daarin, boots & all

Natuurlik maak wit lewens ook saak. Alle lewens maak saak. Ook boere s’n – ek kom nog daarby (straks al aanstaande week, wie weet). Intussen hou ek by Black Lives Matter, om nie die aandag van George Floyd (as simbool) af te lei nie.

Ja, Jimmi – saam met die derduisende mense, oraloor, wat ook nie kan asemhaal onder sulke omstandighede nie, wat aan protesoptogte deelgeneem het.

Vreedsaam deelgeneem het, laat ek dadelik byvoeg.

Maar ek is níé saam met diegene wat die geleentheid vir eie gewin misbruik het nie. Wat winkels geplunder en aan die brand gesteek het. Wat die polisie met klippe bestook het. Wat George Floyd se nagedagtenis onteer het.

Wat my bring by daardie oorywerige idiote wat deesdae al wat standbeeld is, in die naam van anti-rassisme en anti-slawerny wil afbreek – en dan dink hulle hulle het iets bereik.

Ek praat van standbeelde soos Cecil John Rhodes, Oom Paul en talle ander. Soos Mohandas Gandhi; en George Washington; en Winston Churchhill, wat glo ook rassiste was. En MT Steyn. En Christopher Columbus – die jongste slagoffer Daar Oorkant wat water geproe het.

Ek weet ek trap nou op eierdoppe, so laat ek versigtig wees: Ek verstaan wel waarom sommige mense met argwaan na sekere standbeelde kyk; ek sê ook nie dat sulke standbeelde nie verwyder moet word nie – soos na ‘n museum, of elders, waar dit nie soveel aanstoot kan gee nie.

Dis teen die afbreek, nie die verwydering daarvan nie, dat ek dit het, Jimmi. Want om standbeelde van mense wat destyds slawerny voorgestaan het te wil afbreek net omdat hulle rassiste was, of omdat hulle slawerny voorgestaan het, kan nie logies verdedig en volgehou word nie. Asof alles wat hulle gedoen het, net sleg was. Hul hele lewe vanuit een enkele hoek bekyk – en beoordeel. Dis onverdedigbaar.

Kom ek sê jou hoekom.

Want sien, dan moet jy konsekwent wees. Want dan moet jy ook die Bybel verban.

Jy het reg gelees, Jimmi.

Kyk wat skryf Paulus aan die mense in Efese: “Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag… Al is julle slawe, doen julle werk met lus.” En nee, hy het homself nie verspreek nie – hy het dieselfde te sê gehad vir die mense in Kolosse.

Ja, Jimmi, Paulus het slawerny nie net aanvaar nie – hy het slawe selfs aangemoedig om tog asseblief goeie slawe wees. Dieselfde persoon wat meer as die helfte van die Nuwe Testament geskryf het.

Dan praat ek nie eers van die Ou Testament nie, waar slawerny alledaags was – en wat nooit, sover ek weet, ‘n woord daarteen geuiter het nie. Nie Jesaja nie, ook nie Jeremia nie. En nie een van die ander profete nie, sover my kennis strek.

Laat diegene wat standbeelde wil afbreek oor iets soos slawerny, daarom ook 90% van die Bybel verwerp. Laat hulle eers openlik sê hulle kan nie ‘n woord glo van iemand wat daardie praktyk aanvaar en slawe aangemoedig het om goeie slawe te wees nie, al sê party mense ook Paulus is van Bo geïnspireer om te skryf wat hy geskryf het. Dan moet hulle Paulus ook vanuit daardie een enkele hoek beoordeel en veroordeel.

Eers dán sal hul optrede konsekwent en geloofwaardig wees, Jimmi. Maar nie vóór dit nie.

En ja, Jimmi, jy kan inderdaad niks doen aan dit wat Paulus geskryf het nie – maar jy kan wel besluit hoe jy daarop wil reageer. Of jy dit slaafs wil navolg.

Of nie.

Wederom,

Johan Retief (oftewel Oom Boet)

Jy is welkom om saam te stem of te verskil. Skryf na ombudkonsult@gmail.com as jy ‘n stuiwer in die armbeurs wil gooi. Jou oompie sal mooi lees wat jy te sê het – en, wie weet, straks nog daarop reageer ook.

LEES HIER VERDER OP FIND IT NUUS.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


The maximum upload file size: 10 MB.
You can upload: image.
Links to YouTube, Facebook, Twitter and other services inserted in the comment text will be automatically embedded.

%d bloggers like this: