Erfenisraad dien klag in oor Frogfoot se pale

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die Noord-Kaapse Erfenisraad het ‘n klag by die maatskappy Frogfoot ingedien oor die opsit van pale in die erfenisgebiede van Kimberley.

Ratha Timothy, die bestuurder van die Erfenisraad, sê hy het talle klagtes van inwoners ontvang oor pale wat in die Belgravia-gebied naby Carrington Road opgesit word, ontvang.

Erfenisraad nie gekonsulteer

Timothy sê die raad is glad nie gekonsulteer oor die ontwikkeling en insit van infrastruktuur van optiese kabels in dié areas nie. “Die areas en bome dateer meer as 100 jaar terug.” Dié gebiede en spesifieke adresse is beskermde gebiede wat deur die wet beskerm word.

Hy het aangedring daarop dat die maatskappy alle ontwikkeling in die area stop, totdat daar aan seksie 28 van die nasionale erfeniswet, voldoen word.

Kayleigh Rossler, woordvoerder vir Frogfoot, het bevestig alle bedrywighede in dié area word gestop totdat die maatskappy kan besluit oor die pad vorentoe.

Gemeenskapslede regoor Kimberley het nou hulle stemme verhef oor die pale wat ook in ander areas opgerig word.

“Bring vir my bewyse”

Winky Dobson, van Central Road, sê hy het self met Reinier Meyer, projekbestuurder van Frogfoot, gepraat. “Ek het gevra hy moet vir my bewyse bring dat hy toestemming het om die pale op te sit. Hy het gesê hy bring dit vir my. Hy het nooit dit gedoen nie. Hy het gesê hy sal stééds voortgaan om die pale op te sit.”

“Een van dié pale is in die middel van my oprit opgesit. Ons gaan ons karre stamp! Dit terwyl ons telefoonpale agter ons huise het wat hulle kan gebruik,” sê ‘n inwoner van Cassandra, waar dié maatskappy vandag begin pale op sit het.

Verskeie inwoners van Belgravia het self hulle pale begin uithaal en dan het Frogfoot die pale gaan oplaai.

“Hulle sê hulle stop die werk, maar hulle gaan net aan! Hulle hou aan gate grawe. Dink hulle ons is dom?” sê ‘n inwoner van Carringtonweg.

Nuwe dokumentasie

Thoko Riet, munisipale woordvoerder, het op 29 Junie, 2020, nadat FiND iT offisiële navrae aan die munisipaliteit gerig het, dokumentasie wat terugdateer na 2019 aan FiND iT gestuur. Dié dokumentasie, wat Frogfoot toestemming gee om tradisionele loopgrawe te grawe vir optiese kabels, maak nêrens melding van oorhoofse kabels nie.

Riet het gister, 8 Julie, na verdere navrae van FiND iT, ‘n nuwe dokument aan FiND iT gestuur, wat nié op 29 Junie aan FiND iT gestuur is nie. Dié nuwe dokument dui daarop dat Frogfoot op 30 Janurie 2020 toestemming verleen is tot “both overhead installation fibre and conventional trenching”. Dit word vergesel deur ‘n aanhegsel wat hulle ‘n verdere 12 maande verlenging gee.

Steeds kon nie die munisipaliteit, óf Frogfoot, bewyse aan FiND iT lewer van prosesse wat gevolg is om die toestemming te verkry nie. Dit is steeds nie seker of dit aan raadslede voorgelê is nie. Raadslede wie deur FiND iT gekonsulteer is, sê hulle dra geen kennis van dit nie.

Ockie Fourie, DA raadslid, het ‘n petisie opgetrek wat inwoners kan teken as hulle ongelukkig is oor die oprig van pale.

Hier is ‘n lys van erfenisgebiede in die Noord-Kaap.