Michelle Greyling, ’n radiografis van Port Elizabeth, sê sy het op haar knieë gebly en gebid. “Dit is al wat my deur 14 dae van isolasie gedra het.”
“Toe ek uitvind my toetsuitslae is positief, het ek in trane uitgebars. Ek wéét hoe dit voel. Aan almal wat hoor hulle het positief vir Covid-19 getoets, drink jou ACC200 en Corenza, kry ietsie vir die lyfseer en bly in die bed!”
Greyling vertel hoe sy die Maandag moeg begin voel het. “Dinsdag was ek nog moeër en Woensdag het my rug begin pyn. Donderdag moes my man die knoppe uit my rug masseer. Ek is Saterdag dokter toe om inspuitings vir die pyn te kry. Toe ek Sondag wakkerword, het ek geweet. Ek het ’n seer keel en ’n snotneus gehad.”
Greyling sê sy het nooit koors gehad nie. Sy sê die pasiënt wat haar met Covid-19 aangesteek het, was hoeka by haar om X-strale vir sy rug te laat neem. “Ek weet die mense wat baie siek raak en in die hospitaal eindig, het koors as ’n simptoom. Ek het dit glad nie gehad nie.”
Sy is die Maandag getoets en die 14 dae van isolasie het begin. “My man moes ook in selfisolasie gaan,” vertel sy. “Hy het negatief getoets, dus moes hy net agt dae in isolasie bly.”
“Dit was so vreemd. Ons was in dieselfde huis, maar tog glad nie bymekaar nie. Ons het in twee verskillende kamers geslaap en twee verskillende badkamers gebruik. Gelukkig het ek meeste van die tyd geslaap. Hy het weer net videospeletjies gespeel!”
Greyling vertel hoe sy aanhoudend geslaap het. “Ek gaan sit net en skakel die TV aan, dan raak ek sommer klaar aan die slaap.” Sy sê sy is baie gelukkig dat sy die laer graad van die virus gekry het en dit met genoeg rus kon beveg.
“Toe hulle vir my sê ek is positief, het dit byna gevoel asof hulle vir my sê ek het kanker. Ek het egter diep in my hart geweet ek is nog nie so siek nie.”
Greyling sê sy het nie weer gaan toets na haar 14 dae van isolasie nie. “Dit werk nou glo so dat jy na 14 dae van selfisolasie nie meer ander kan aansteek nie. Jy kan dan weer soos normaal terugkeer werk toe indien jou simptome verminder het.”
“Al raad wat ek aan persone het wat hoor hulle het positief getoets, is om genoeg slaap te kry, medikasie te neem en aan te hou bid!”



