Media24, ’n bekende mediamaatskappy, het vandag in ’n persverklaring bekend gemaak dat die wêreldwye pandemie hom hard getref het. Media24 oorweeg nou om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit.
Hulle beplan om die oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en minder gereeld uit te gee. Daar word beplan dat twee koerante net digitaal uitgegee sal word en personeel sal verminder.
Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, sê: “Van die begindae van die pandemie in Suid-Afrika het ons met alles wat ons doen op twee prioriteite gefokus. Eerstens, die gesondheid en veiligheid van ons mense, en tweedens, om ons besigheid aan die gang te hou – by implikasie ook om vir so lank ons kan, poste te beskerm.”
Davidson sê die pandemie het ’n vernietigende uitwerking op die drukmediabedrywighede. “Selfs al sou die ekonomie herstel tot die vlakke voor Covid-19, sal ons drukmediabesigheid nie van die pandemie se impak daarop kan herstel nie.”
Terselfdertyd, sê Ishmet, is Media24 besig om te omvorm om vinniger as ooit tevore by ’n toenemend digitale omgewing aan te pas.
Tydskrifportefeulje:
• Sluit Move! en die Hearst-titels (Men’s Health, Women’s Health, Bicycling, Runner’s World).
• Gee DRUM net in digitale formaat uit.
• ’n Uitgewersooreenkoms met redakteur Helen Schöer om die ouerskaptitels (Baba & Kleuter and Your Pregnancy) onafhanklik uit te gee.
• Uitkontrakteer die redaksionele produksie van die oorblywende maandelikse tydskrifte (Fair Lady, SARIE, SA Hunter/Jagter, True Love, Tuis | Home, Weg! | Go! en Weg! Ry & Sleep | Go! Drive & Camp) asook die tweeweeklikse Kuier.
• Verminder die frekwensie van die maandblaaie tot ses uitgawes per jaar, en agt uitgawes vir Tuis | Home, SA Hunter/Jagter en Man Magnum.
Die vlagskip-weekblaaie Huisgenoot, YOU en Landbouweekblad sal steeds intern saamgestel en uitgegee word.
Koerantportefeulje:
• Sluit Son op Sondag en Sunday Sun.
• Sluit die Oos-Kaapse uitgawe van Son.
• Gee Volksblad en Die Burger Oos-Kaap net digitaal uit en net op weeksdae – volledig in PDF-formaat beskikbaar op Netwerk24.
• Sluit vier gemeenskapskoerante in KwaZulu-Natal: Amanzimtoti Fever, East Griqualand Fever, Hillcrest Fever en Maritzburg Fever.



