Kleuters mag skool toe sê hof

Deel hierdie storie / Share this story

Regter Hans Fabricius het vandag in die guns van die Solidariteit Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) beslis dat private kleuterskole en dagsorgsentrums daarop geregtig is om onmiddellik te mag heropen indien hulle dit veilig kan doen.

Marisa Engelbrecht, woordvoerder vir Solidariteit, sê die twee organisasies het die saak teen die departement van maatskaplike ontwikkeling gevoer omdat geen aanduiding van ’n vasgestelde datum gegee is ten opsigte van die heropening van hierdie instansies nie.

Volgens ’n mediaverklaring wat op 5 Junie uitgereik is, het die departement van maatskaplike ontwikkeling aangedui dat die sektor vir vroeë kinderontwikkeling, wat uit graad R- en jonger leerders bestaan, nie tydens vlak 3-inperking sal heropen nie, maar regter Fabricius het dit as onregmatig verklaar.

“Ons is verheug oor die uitspraak. Dit beteken verligting vir duisende ouers vir wie dit nou weer moontlik gaan wees om hul kinders in die sorg van hul bekwame onderwysers te laat vir die stimulasie en leer wat kinders so broodnodig het,” sê Engelbrecht, sektorhoof van die Solidariteit Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers. “Wat nog meer gerusstellend is, is dat hierdie kinders nou weer in ʼn veilige omgewing kan wees en dat die kinders wat afhanklik van voedingskemas is, weer met vol magies kan leer en optimaal kan ontwikkel.”

Die beroepsgilde en die SOS het aangevoer dat die kleuterskole en dagsorgsentrums ter sake ten volle toegerus en voorbereid is om kleuters te ontvang binne die veilige omgewing wat hulle daargestel het en daarom sou daar geen verdere rede wees om kinders te verhoed om skool toe te gaan nie.

Regter Fabricius het ook beveel dat die departement Solidariteit en die SOS se regskoste van verband met hierdie saak moet dra. Die departement het versuim om sy hofstukke in te dien of om enige ander reaksie te toon soos gedurende hofprosesse van hom verwag word. In antwoord hierop het Regter Fabricius sy sterk misnoeë teenoor die departement van maatskaplike ontwikkeling oor die hantering van die saak uitgespreek, veral aan die lig daarvan dat dit oor jong en weerlose kinders se beste belange handel.

“Volgens die uitspraak is die staat met geen ander keuse gelaat as om die heropening van private kleuterskole en dagsorgsentrums toe te laat nie. Onderwysers kan hul dienste hervat en die talle personeellede wat ook onder hierdie sinnelose stilswye van die departement gely het, kan nou weer daarna uitsien om gesond en veilig te werk. Hierdie oorwinning is nie net ʼn oorwinning vir private kleuterskole en dagsorgsentrums en hul leerlinge nie; dit is ʼn oorwinning vir elke Suid-Afrikaner wat wil opstaan teen die onbillikheid van die regering se inperkingsmaatreëls.”

Lees die uitspraak hier.