‘Die dreinwater stoot al op tot in my wasbak’ – raadop inwoner

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Talita Strydom, inwoner van Beaconsfield in Kimberley, is raadop oor haar drein wat verstop bly.

Sy sê haar drein het begin probleme gee. “Ons het aangeneem die drein is verstop toe die water daaruit begin loop het. Nie kort daarna nie het die water by die mangat begin uitstoot.”

Sy vertel hoe hulle ’n private loodgieter betaal het om na die probleem te kom kyk. “Hy het alles in sy vermoë gedoen om die mangat oop te maak. Hy het 26 m se yster by die mangat ingedruk, maar kon dit net nie ontblok kry nie. Hy het gesê hy het nog nooit so met ’n drein gesukkel nie. Wat hy ook gesê het, is dat die enigste rede waarom die drein so maak, is as een van Sol Plaatje se hoofmangate geblok is.”

“Ek het die raadslid van die wyk hier in Beaconsfield gekontak en van ons probleem vertel. Hy het die munisipaliteit nou al menigmaal gekontak, maar niemand kom uit om dit te herstel nie. Die dreinwater lê my hele erf vol, dit stoot al terug tot selfs in my wasbak.”

FiND iT het by die munisipaliteit navraag gedoen, maar wag nog vir terugvoer.