‘n Groep persone wat teen die sigaretverbod tydens inperking in Suid-Afrika is, het ‘n ‘vreedsame rokersoptog’ gereël wat vandag by die Unigebou in Pretoria sal plaasvind.
Dear Mr President, die groep wat sal bymekaarkom, se optog sal om 12:00 begin.
“Die idee is om in stilte bymekaar te kom, mense vir ‘n uur van ons teenwoordigheid bewus te maak en dan weer uitmekaar te spat,” sê NJ Hourquebie, die stigter van die groep.
In ‘n boodskap wat Hourquebie op Facebook geplaas het, sê hy die optog is om die regering bewus te maak van die rokers en dat hulle nie langer geïgnoreer kan word nie.
“Ons Suid-Afrikaners het genoeg gehad,” sê Hourquebie. “Mense gaan dood, die ekonomiese en geestelike vrees wat dit in ons veroorsaak, sal jare neem om te oorkom.”
“Die regering het vir 90 dae lank gekies om ‘n groot bevolking stemme te ignoreer en weg te kruip agter ons ‘power gesondheidstelsel’. Die besluit is op swak wetenskap gebaseer. Hulle gee nie om vir ons nie.”
Die reëls wat vir die optog geld:
Dra ‘n swart armband vir persone wat aan die hand van die regering oorlede is.
Dra jou masker, handreiniger en hou by sosiale distansiëring.
Bring baniere met die name van besighede wat onder die verbod ly.
Geen aggressiewe optrede sal geduld word nie.
Diegene wat nie die optog kan bywoon nie, kan ‘n selfie met die onderskrif #SmokersProtest op sosiale media laai.



