August 4, 2021

Dieseltekort die rede vir geen vullisverwydering

Foto: Unsplash

KIMBERLEY – Die vullisverwyderaars in Kimberley het verlede week nie die vullis in dié dorp soos normaalweg verwyder nie. Die rede hiervoor het aan die lig gekom, maar die rede waarom die vullis stééds nie verwyder is nie, is nou die nasionale dieseltekort.

Kimberliete is in verlede week so ver gedryf om self vullis voor hulle huise te verwyder. Hester van der Merwe (48) sê sy is moeg daarvoor om die vullis voor haar huis op te tel. “Ek pak my swartsakke netjies voor my huis en dan kom krap die rondlopers die sakke oop. Binne ’n paar uur waai die wind alles wat in die sakke was weer by my tuin in. Ek het mense gister betaal om die sakke voor my huis weg te vat,” vertel Van der Merwe.

Thoko Riet, woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê die rede waarom die vullisverwyderaars nie verlede week gewerk het nie, is omdat hulle gestaak het. “Die werkers is ongelukkig oor oortydbetalings vanaf November 2019 tot nou,” sê sy.

’n Nasionale dieseltekort is nou die rede vir die vullis wat nie vandeesweek verwyder is nie. “Ons doen alles in ons vermoë om diesels vir die vragmotors in die hande te kry. Ons wil graag die gemeenskap dien en vra om verskoning vir enige ongerief,” sê sy.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *