“Ek het al baie battles in my lewe gefight, maar die een was by verre die een wat my emosioneel die meeste dreineer het,” sê Natalee February, die ma van twee en ‘n verpleegster van Worcester wat met Covid-19 gediagnoseer is.
February sê sy het op 17 Junie die oproep gekry wat dit bevestig het en sy is beveel om dadelik te self-isoleer. “Ek het so groot geskrik. Die trane het begin rol en ek het myself op ‘n ventilator gevisualiseer. My gedagtes het met my weggehardloop. Ek het altyd geweet die ding is ‘n werklikheid, maar ek het nooit gedink dit sou my tref nie.”
February vertel hoe sy onmiddellik gedink het sy was in kontak met haar man en haar kinders. Sy was vreesbevange dat sy hulle dalk ook siek gemaak het.
“Een van die moeilikste dinge was toe ek vir my twee kinders moes vertel dat mamma vir twee weke lank nie drukkies en soentjies sal kan uitdeel nie. Dit het gevoel asof ek in die hel is toe my sesjarige histeries begin huil het en ek haar nie kon vashou nie.”
February vertel van die twee weke wat vir haar soos ‘n eindeloosheid gevoel het. “Elke hoesie uit my kinders se monde, elke keer as hulle net bietjie stil geraak het, het my hart tot stilstand gekom. Slapelose aande was ‘n roetine soos wat my kop met my speletjies gespeel het. Nes ek my kom kry, was ek besig om God te vra om Sy hand oor my en my gesin te hou.”
Sy sê sy het elke nag vir nog ‘n simptoom gewag. Sy het vier keer ‘n nag gaan voel of haar kinders nie ‘n koors ontwikkel het nie.
“Covid-19 het my lewe vir twee weke hel gemaak.”
February sê sy besef nou dat familie en vriende en God se liefde haar genesing was. “Die ondersteuning wat my man my gegee het en sy bemoedigende, positiewe houding, is wat my hierdeur gedra het. Ek is ook vreeslik dankbaar vir my kollegas se boodskappe en oproepe.”
“Ons mediese spanne offer regtig baie op en gaan elke dag deur emosionele hel, so, asseblief, respekteer ons en bly by die huis. Dis nie baie gevra nie.”




